Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die soet klanke van vioolmusiek aan die voet van die Outeniquaberge het inwoners aan die praat. Met haar viool onder haar ken en strykstok in die hand, helder Lynette de Jager (29) gereeld soggens of saans die lewens van mense op. Soms doen sy dit sommer in die voortuin van haar ouerhuis in Glenbarrie.
De Jager, 'n beroepsviolis, het vertel dat alles begin het toe sy tydens die inperking voortgegaan het om met haar viool te oefen. Sy tree dikwels by openbare en korporatiewe geleenthede op, maar as gevolg van die inperking kon sy nie daarmee voortgaan nie.
Haar planne was reeds in plek om in Amerika haar loopbaan voort te sit, maar sy moes dit eers op ys sit.
De Jager kom oorspronklik van George en uit 'n familie met 'n sterk aanvoeling vir die kunste. Haar oom is onder meer wyle John van Reenen, wat benewens roem op die atletiekbaan, ook 'n skilder van formaat was.
As klein dogtertjie het sy op haar oupa, Manie, se viool afgekom. Dit het oorspronklik aan haar oupagrootjie behoort wat die viool tydens die Anglo-Boereoorlog bespeel het. Die familie het dit laat restoureer en sy het lesse begin neem.
Uiteindelik was musiek by Hoërskool Outeniqua een van haar vakke. Sy het besluit om 'n loopbaan daarvan te maak en na 'n streng keuring het sy B.Mus. op Stellenbosch gaan studeer. Sy het haar graad verwerf. Viool was een van haar vakke wat sy cum laude geslaag het.
Lynette de Jager besig om op haar viool te oefen.
Daarna het 'n paar draaie gevolg en sy het in verskeie orkeste gespeel waar onder die Suid-Afrikaanse Nasionale Jeugorkes. In 'n stadium het sy onderwys gegee, maar in 2017 het sy besluit om 'n sololoopbaan as violis te volg.
De Jager het benadruk haar vioolspelery tydens die inperking was nie om aandag te trek nie. "Ek wou net bly oefen."
Kyk 'n video hieronder:
Sy het binne die huis geoefen en soms buite in die tuin. Mense in die omgewing het dit gehoor en gevra sy moet meer speel. Omdat sy bekommerd was dat dit steurend kon wees, het sy dit op 'n Telegram-buurtwaggroep genoem. Indien die musiek mense sou steur moes hulle haar laat weet. Mense was oorweldigend positief en baie het begin opdaag om te luister. Sommer met koffie.
'n Inwoner Toelie Barnard, het 'n video geneem en dit op die groep, Georgiete Staan Saam, geplaas. Weereens is baie reaksie ontvang en mense het dit selfs by die radiomas teen die berg gehoor. Sy was stomgeslaan. De Jager speel iets van alles van klassieke musiek tot kontemporêre musiek.
De Jager is dankbaar dat sy iets vir mense in hierdie tyd kan beteken. Musiek is nie iets wat sy fisies soos geld vir mense kan gee nie, maar hulle kan daarna luister en dit geniet. Sy kry ook baie aanmoediging van haar ma, Vivienne.
Lynette de Jager besig om op haar viool te oefen. Foto: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'