SUID-KAAP NUUS - Tegnologie word ingespan om seker te maak dat die aktiwiteite van die Suid-Kaap Kinderkoor voortgaan ondanks die inperkingstyd. Aangesien koorlede nie fisies bymekaar kan wees om te oefen nie, word nuwe musiek ingeoefen met rekenaartegnologie wat op lede se fone gelaai is.
Die gewilde koor bestaan uit sowat 90 lede uit Knysna, George, Hartenbos, Mosselbaai en Ladismith en hul ouderdomme wissel tussen 9 en 18 jaar.
Volgens Jan-Erik Swart, koorleier, beplan hulle internet-verwante projekte, die maak van 'n nuwe CD asook verskeie aanlyn-musiekaflaai-toeps.
"Ons was besig om te beplan vir 'n besoek aan Tacoma, Washington (VSA), 'n vertoning by die Suidoosterfees en 'n toer na die Oos-Kaap. Die Tacoma-besoek was deel van die George-Tacoma susterstadprojek, maar dit is van die baan."
Die koor het aanvanklik deur middel van die Zoom-toepassing groepsrepetisies gehou, maar koorstemtoon-kwaliteit en wisselvallige internetstroming, het hul planne gefnuik.
"Ons het 'n Facebook-oefening gedoen, maar die hele wêreld het ingeskakel, wat my ietwat geïntimideer het. Nou maak ek YouTube-video's van die oefeninge, wat asemhalingstegnieke, stemopwarming, harmoniseringsoefeninge en bewegende bladmusiek van elke stemgroep bymekaarbring," sê Swart.
"Ons het besluit om 'n virtuele koor-videoprojek saam met ons susterkoor, die Kiliana-kinderkoor van Pelt, België, te loods. Hulle skakel dan op 'n sekere tyd op YouTube in vir 'n lewendige gedeelte wat ek uitsaai, waarna hulle na hulle stempartyvideo's kyk, wat ek vooraf laai."
Die YouTube-oefening waaraan koorlede in België en die Suid-Kaap tegelyk deelgeneem het, kan op YouTube gesien word. Aan die einde is 'n video van die twee kore wat saam een van Swart se verwerkte liedjies, Nkosi Sipea, in België sing. Die solis is Brighitte Deister.
Mishke van Niekerk van George bly in voeling deur middel van die internet met die aktiwiteite van die Suid-Kaap Kinderkoor.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'