Wouter Kriel, woordvoerder van die Wes-Kaapse minister van landbou, Gerrit van Rensburg sê hulle beskou dit nie as ‘n nuwe uitbreking nie, maar eerder as een van die laaste nadraaie van verlede jaar se uitbreking toe meer as 8000 stuks vee en 26 mense dood is.
"Boere moet egter paraat wees en hulle diere inent teen die siekte. Dit is die enigste manier om ‘n nuwe uitbreking te voorkom. Daar is oorgenoeg entstof beskikbaar en ‘ n nuwe entstof, Kloon 13, is ook geskik vir dragtige diere."
Volgens Kriel het die provinsie in 2010 ‘n buffer tussen die Wes-Kaap en ander provinsies waar die siekte voorkom geskep deur sowat 200 000 grensdiere in te ent.
Volgens die Wes-Kaapse Veeartsenykundedienste was daar hierdie maand ook gevalle van slenkdal-koors in Wellington en Gauteng.
Die staatsveearts in George, Edwin Dyason, sê die Groot-Brakrivier-geval word as die eerste van 2011 gesien. "Hoewel die skaap reeds voor Kersfees dood is, is die diagnose eers in 2011 gemaak so in die annale gaan die vrekte gesien word as die eerste van 2011. Ons kan die belang van inenting nie oorbeklemtoon nie."
Die siekte affekteer skape, bokke, beeste en sommige wildspesies en gaan gepaard met hoë reënvalsyfers. Dit is ‘n virus wat deur muskiete van dier na dier oorgedra word.
Dit veroorsaak miskrame by diere en verhoogde sterftes by jong diere. Mense moet ten alle koste die besmette vleis vermy.
‘n Verbod wat China op die invoer van Suid-Afrikaanse wol geplaas het, is steeds van krag, hoewel navorsing daarop dui dat die siekte nie deur wol oorgedra kan word nie.
.jpg)
Die lewer van ‘n skaap wat gevrek het weens slenkdalkoors. Die oppervlaktesnit van die geswelde lewer is vaal en bevat talle kolletjies as gevolg van bloeding.
ARTIKEL: ILSE SCHOONRAAD