Gallery Video
SEDGEFIELD NUUS EN VIDEO - ’n Negejarige van Sedgefield het verlede week ’n voorsmakie gekry van hoe sy droom om ’n vlugingenieur te word eendag sal uitdraai toe die Suid-Afrikaanse Lugmag (SALM) ’n besoek by sy skool gaan aflê het.
Liam du Preez is ’n leerling aan Sedgefield Laerskool. Volgens sy ma Yolande du Preez het hierdie seuntjie se massiewe voorliefde vir Oryx helikopters aanleiding gegee tot die lugmag se besoek op Vrydag 16 Maart.
“Liam se oupa wie hy nie eens geken het nie, Russell du Preez, was ’n vlugingenieur wat in ’n helikopter ongeluk oorlede is. My broer Mark du Preez is ook 'n vlugingenieur – beide sy oupa en oom het aan Oryx helikopters gewerk, so dit is in Liam se bloed,” vertel sy.
Maar dit is nie Liam se hele storie nie.
Sy ma vertel dat Liam tydens die Knysna brande van Junie 2017, toe die helikopters vure rondom Knysna en Sedgefield geblus het en oor hul huis se dak heen en weer gevlieg het, konstant op die stoep gestaan en vir hulle gewaai het.
“Toe maak Liam ’n skets en skryf ’n brief vir hulle en vra dat ek dit sal stuur. Hy wou vir dàài Oryx ‘crew’ bedank en vertel dat hulle vir hom regte helde is,” sê Du Preez.
Om ’n lang storie kort te maak het dié tekening en brief eerstens by Majoor Nico van Schalkwyk uitgekom, waarna dit op Brigadier Generaal Ettienne de Bod, SALM direkteur van helikopterdienste, se lessenaar beland het.
Kyk 'n video hieronder:
Van Schalkwyk is by die Port Elizabeth-lugmagstasie gebaseer en het vlugte tydens die brande gekoördineer. Hy het spesiaal van PE af deurgery na Sedgefield om vir Liam te verras.
“Dit was ’n ongelooflike gebaar van Liam af. Hy het die lugmag uitstekend uitgebeeld. Dit is ’n groot trots vir ons dat dié seuntjie so trots op sy oupa en oom – en op ons – is,” sê Van Schalkwyk.
De Bod beaam hierdie sentiment.
“Dit beteken vir ons ontsettend baie aangesien ons selde die geleentheid het om met die mense aan wie ons ’n diens lewer in aanraking te kom, wat nog te sê so ’n gebaar van opregte, onskuldige dankbaarheid,” sê hy.
Volgens De Bod het die lugmag tydens die hoogtepunt van die vure vyf Oryx helikopters na die gebied gestuur. “Ons het ’n totaal van 204 ure gevlieg tydens die brande, en meer as 1 000 ‘bambi buckets’ – wat elk 2 000 liter water dra – gebruik om brande te blus,” het hy gesê.
Die lugmag se direkteur van helikopterdienste Brigadier-Generaal Ettienne de Bod verduidelik aan Sedgefield Laerskool leerders hoe die "bambi bucket" werk wat tydens vuurbestryding gebruik word. Hierdie beeldjie is ook aan die skool oorhandig as 'n gebaar van dankbaarheid.
Nie net is Liam verras met ’n helikopterrit nie, maar sy hele klas ook. De Bod het ook ’n collage met Liam se prentjie en foto's van helikopters aan die toekomstige vlug-ingenieurtjie oorhandig voor hy en sy maats die lug in is.
By sy landing het Liam oorgeborrel van opwinding. “Dit was baie lekker! Ons het na plekke toe gevlieg wat ek nog nooit gesien het nie, en hulle het die deur oopgemaak terwyl ons gevlieg het,” het hy met groot oë vertel.
Hy het selfs die eer gehad om in die “first seat” te sit sodat die vlieënier vir hom “al die knoppies en goed kon wys, maar ek het niks gedruk nie al wou ek graag”.
Volgens sy ma was dit ’n “lekker lang wag maar elke sekonde werd” om die besoek gereël te kry.
“Hulle is voorwaar helde en hulle gaan oor 10 jaar beslis ’n ‘new recruit’ hê wat die vlugingenieur-embleem met baie trots gaan dra.”
Liam du Preez en sy oorspronklike tekening wat aan hom 'n droomrit op 'n Oryx-helikopter besorg het. Foto: Verskaf
ENGLISH SUMMARY:
Liam du Preez is a nine-year-old learner at Sedgefield Laerskool. Since the age of three he has dreamt of becoming a flight engineer – something that is in his blood, says his mother Yolande du Preez, as both his grandfather, now deceased, and uncle have worked on Oryx helicopters. During the Knysna fires of June 2017 Liam could not take his eyes off the firefighting Oryxes as they flew over his home. He wanted to thank these pilots and asked his mother to send them a drawing and letter from him. These eventually landed on Brigadier General Ettienne de Bod's desk, the director of helicopter systems at the SA Air Force. De Bod organised a flight in an Oryx for Liam and his classmates on Friday 16 March as a way to thank the boy for his "sincere and innocent" gesture.
'We bring you the latest Sedgefield, Garden Route news'