TUINROETE NUUS - ‘n Bekende Riversdaller, Tielman Roos, was vanaf 19 November tot 30 Desember vir 42 dae op ‘n onvergeetlike seilvaart na Antarktika.
Nie net het hy sy droom verwesenlik deur op die 111-jaar oue seilskip Bark Europa te vaar nie, maar hy het ook teruggegaan op die spore van sy gunsteling ontdekkingsreisigers.
Van laerskooldae af was Tielman geboei deur stories van die ou ontdekkingsreisigers met hulle seilvaarte. Hy het ook in gr. 6 begin seil saam met die Voortrekkers en gaande geraak oor dié sport wat hy sy lewe lank beoefen.
Hy het lankal daaraan gedink om dalk eendag Antarktika toe te gaan, maar dit was onbekostigbaar. En toe kom hy op die ou seilskip af, ‘n Nederlandse opleidingskip waar jy inskryf op ‘n vaart. Hulle stel dit baie duidelik van die begin af “we don’t take passengers: every one is working crew; jy is ‘n matroos in opleiding op hierdie skip.
Met hierdie vaart is die kostes baie minder as op ‘n passasierskip, omdat niks luuks is nie en seker omdat die wind hom aandryf! Daar was vyf mense in ‘n kajuit van so 3 m x 2,5 m saam met hom.
‘n Paar vereistes is daar wel, maar om te kan seil is nie een daarvan nie, alhoewel daar gevra word na jou seilervaring. ‘n Gesondheidsvraelys moet voltooi word sodat hulle weet of jy fisiek in staat sal wees om deel te wees van die werkende bemanning op die skip.
“As jy inskryf kry jy reeds inligting vir voorafopleiding. Jy moet die skip en seile goed leer ken en weet watter seil is waar, elkeen het ‘n klomp toue so dis ‘n netwerk van seile en toue wat jy bymekaar moet bring. Ek seil al my lewe lank, maar dit is die eerste keer in my lewe wat ek op ‘n “Square Rigger” was. Dis die outydse skepe met die vierkantige seile, waar die moderne seiljagte van vandag se seile meestal driehoekig is. Die Europa is ‘n driemaste skip met 32 seile wat vir my ‘n totale nuwe uitdaging was,” sê Tielman.
Die Bark Europa is 56 m lank en 7,5 m breed. Die hoofmas is 33 m hoog en sy diepgang is 3,9 m. Die seile het elkeen ‘n naam wat voor die tyd geleer moet word en elke seil het 6 tot 8 toue, plus minus 250 toue in totaal.
Die totale lengte van die toue op die skip is ongeveer 5,5 kilometer!
Wanneer die matrose aan boord gaan, word hulle opgedeel in drie wagte: rooi, wit en blou, die kleure van die Nederlandse vlag. Hulle werk vier ure aan diens of wagbeurt en agt ure af.
In die vier ure wat jy aan diens is, maak almal beurte om die skip te stuur, op uitkyk te wees (veral vir ysberge) en om seile te verander. Die agt ure wat hulle af was, moes hul eet, slaap en elke dag was daar ook, indien die weer dit toegelaat het, lesings oor die interessantste goed wat op die vaart teëgekom sou word.
Volgens Tielman was daar drie gidse, twee Spanjaarde en een Noorweër, op die skip wat puik aanbiedings gegee het. Hulle is topmense met doktorsgrade oor oseanografie, gletsers, ysberge, klimaat van Antarktika, die walvisse, pikkewyne en vele meer.
Die betrokke vaart het begin by Puerto Madryn ‘n hawedorp aan die ooskus van Suid-Amerika. Hulle het aan boord gegaan, opleiding gekry en die volgende dag geseil, waar hulle aan die diep kant ingegooi is, maar darem saam met 14 ervare permanente bemanningslede wat hul storie ken.
Suid-Georgië
Die eerste skof was vir ongeveer 10 dae, suid-ooswaarts tot by die Antarktiese eiland, Suid Georgië, wat vernoem is na Koning George die derde. Op pad na Suid-Georgië is daar ’n klomp lesings aangebied oor die geskiedenis van hierdie eiland wat volgens Tielman ‘n ongelooflike mooi eiland is met natuurskoon soos hy in sy lewe nog nooit gesien het nie.
Hulle het in die nag by Suid-Georgië aangekom en sou in ‘n baai gaan anker gooi, maar as gevolg van die stormagtigheid van die see het hulle eers die volgende oggend in ‘n verdere baai ingeseil en anker gegooi.
Daar is geen permanente inwoners op die eiland nie as gevolg van die uiters koue winters. Somermaande kan mense daar bly en in die wintermaande, vanaf April, onttrek almal want dan is alles toe onder sneeu en ys. Hulle het ‘n week hier spandeer en stadig kuslangs omgevaar en elke dag op ‘n ander plek anker gegooi waar hulle aan wal gegaan, gestap en gekyk het.
“Dit was ‘n ongelooflike ervaring, as jy daar afklim voel dit asof jy is ‘n paar 100 jaar terug in tyd is,” vertel Tielman.
Volgens hom is daar geen tekens van besoedeling nie, dis ‘n paradys met duisende pikkewyne. In 1775 is die eiland ontdek en daarna is die robbe gejag en uitgeroei tot daar amper niks oor was nie.
Einde 1800’s het hulle begin walvisse jag tot daar feitlik niks oor was nie. Al die jagtery is gelukkig gestaak en word streng bewaring nou toegepas.
Daar is nou weer walvisse en duisende pikkewyne, die seelewe het wonderlik herstel. Alhoewel dit ‘n hele paar jaar geneem het, wys dit tog dat dit moontlik is. Mens kan nog die ou walvisstasies se oorblyfsels sien. Dis nou murasies, maar is interessant om daarna te gaan kyk.
Die skilderagtige prentjie wat jy kry van Suid-Georgië in die somer is die blou see, gewoonlik stormagtig, maar blou. Party plekke is daar geen kusvlakte nie en party plekke wel so ‘n groen streep al langs die kus en dan die berge wat net hoër en hoër gaan.
Hy vertel met oorgawe van die eiland wat so 170 km lank en tot 40 km breed is met berge op berge wat ongelooflik was. Die pieke is amper 3 000 m hoog wat nie vir meeste mense veel sê nie, maar as jy ‘n vergelyking maak, is dit soos wanneer jy by die Kaapse Waterfront staan en na Tafelberg kyk. Jy kan drie daarvan op mekaar sit en alles vol sneeu en ys maak. Dis soos die Alpe, maar troon reg uit die see uit op.Daar is ‘n groot verskeidenheid pikkewyne, derduisende is oral sigbaar.
“Ek het baie uitgesien na Suid-Georgië vir die geskiedenis daarvan. Dit was in die tyd van die ontdekkingsreisigers die poort na die suidsee en dit was een van die redes hoekom ek dit graag wou doen, maar ek het die natuurskoon totaal onderskat en nie verwag dit gaan so mooi wees nie. As jy afklim en jy gaan aan wal, is daar pikkewyne sover as wat jy kyk. Hulle het geen vrees vir mense nie. Dit was ‘n belewenis om te sien en ervaar,” vertel hy.
Daar is ‘n groot verskeidenheid pikkewyne, derduisende is oral sigbaar. Volgens die kenners is daar ‘n broeikolonie van ongeveer 150 00 pare in een van die baaie getel. Die kuikens is bruin en hulle is gewoonlik in groepies bymekaar.
Tielman Roos aan die stuur van die Bark Europa.
Lees meer op susterskoerant, www.suidkaapforum.com
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’