Terwyl ander mense nog snoesig in hul kooi lê en na die reën buite luister, was van Knysna se polisie saam met die personeel van Oasis en FNB al besig om Vrydagoggend vroeg twee trokke vol bottels water te laai. En hoewel daar plek-plek nou in die Karoo wel reën uitgesak het, moet mense geensins onder die indruk verkeer dat die Karoo se krisis verby is nie.
Beaufort-Wes se opgaardam het absoluut geen water meer in nie en die situasie bly steeds uiters kritiek. Alle hulp van die publiek word grootliks waardeer om hierdie mense en hul diere te help.
Volgens Magda Stander van Oasis het hulle aan almal wat aan die polisie se Skenk Water Projek wou deelneem, ‘n goeie prys gegee. "Hulle het basies net vir die bottel en prop betaal, die res is ons bydrae," sê sy van haar en haar man, Herman.
Majoor-Generaal Allan Modisa, hoof van die Tuinroete polisiegroepering, het sy goedkeuring aan die projek gegee, en Vrydagoggend het Donald Share, Leon Koch en Ricardo Appels van Knysna Polisie die pad gevat om twee trokke vol water gelaai Beaufort-Wes toe te vervoer.
"Die water gaan by Beaufort-Wes se rampbestuur by hul munisipaliteit afgelaai word," verduidelik Kock, een van die dryfkragte agter die uitmuntende projek.
In totaal is 5300 liter water gelaai. Van die ander skenkers naas Oasis en polisielede self, was Pezula Estate en Pezula Hotel, Fruit & Veg City, personeel van FNB, Absa en Standard Bank in Knysna, Carpe Diem en Knysna Hoërskool, Van Halderens Garage, die teaterpersoneel van Geneva Mediese Kliniek in George, asook individuele lede van die publiek.
Kock en Awie Coezter van Knysna SAPD het almal hartlik vir hul bydraes en samewerking bedank.

Vasvat! Nie eers die reën kon hierdie manne se entoesiasme demp nie. Voor is Herman Stander van Oasis en agter van links is Donald Share, Bruce Kitching en Leon Koch, almal van Knysna SAPD.
ARTIKEL EN FOTO'S: ANOESCHKA VON MECK