TUINROETE NUUS - Die staatsonderneming PetroSA swyg soos die graf oor of die gas-tot-brandstof-aanleg op Mosselbaai inderdaad bykans 850 poste gaan snoei.
PetroSA het verlede week met vakbonde waaronder Solidariteit, 'n konsultasieproses by die Kommissie vir Versoening, Bemiddelling en Arbitrasie begin.
Dit volg nadat PetroSA in Desember sy werknemers en vakbonde ingelig het dat daar van plan is om met afleggings te begin.
PetroSA het die afgelope week aan die Mossel Bay Advertiser bevestig dat daar 'n proses ingevolg die arbeidswet gefasiliteer word deur 'n onafhanklike kommissaris. PetroSA was nie bereid om enige verdere inligting met die Advertiser te deel nie.
Wanbestuur
Intussen het die vakbond, Solidariteit hom ten sterkste teen die beplande afleggings uitgespreek. Hoofsekretaris, Gideon du Plessis sê Solidariteit veroordeel die "totale wanbestuur en 'n gebrek aan politieke wil by PetroSA, wat na Solidariteit se mening die hoofredes is vir 'n tweede afleggingsproses wat binne 12 maande ná 'n vorige proses by PetroSA ingestel is".
Du Plessis het aan die Advertiser gesê die onderneming beplan om sy arbeidsmag van 1 168 tot sowat 318 personeellede te verminder deur 850 werknemers af te lê.
Solidariteit voer aan dat die maatskappy selfs in die aanloop tot die afleggingsproses aansoeke vir vrywillige skeidingspakkette op 'n baie onbevoegde manier hanteer het en wys daarop dat hoewel 115 aansoeke vir vrywillige pakkette goedgekeur is, talle aansoeke van personeellede afgekeur is wie se poste nou as oorbodig verklaar is.
Solidariteit voer aan dat PetroSA se volhoubaarheid maklik verhoog kan word en dat alle poste behoue kan bly as die regering eers daardie gedeelte van die brandstofheffing, wat vroeër as finansiering vir onder meer gaseksplorasieprojekte gedien het, aan PetroSA hertoewys.
Du Plessis het aan die Advertiser gesê sou PetroSA met die afleggingsproses voortgaan, dit katastrofiese sosio-ekonomiese gevolge vir veral die Suid-Kaap inhou.
Hy sê die regering moet PetroSA weer in staat stel om die brandstofverskaffer vir meer staatsondernemings te wees aangesien die maatskappy tans net Eskom se voorsiener is.
"As PetroSA byvoorbeeld die diensverskaffer vir die departement van verdediging word, sal die maatskappy ten volle volhoubaar wees, terwyl nog staatsondernemings by die lys gevoeg kan word."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'