TUINROETE NUUS - Die Tuinroete Messeskou wat op Saterdag en Sondag 24 en 25 Maart in George aangebied word, is 'n eerste vir George.
Mesrestoureerder Sarel Jacobz en sy vriend, mesmaker Loutjie Uys is baie opgewonde oor die vooruitsig.
"Ek het amper op my rug geval toe ek hoor hoeveel mesmakers daar in die Tuinroete is," sê Sarel, die organiseerder van die skou.
Sy eie mesversameling, meestal messe wat hy self gerestoureer het, trek al by die 500.
"Daar is 'n hele industrie rondom mesmakery. Ons verwag ten minste 31 uitstallers. Benewens die mesmakers, gaan daar versamelaars, handelaars, 'n bylmaker en dalk 'n swaardmaker wees."
As 'n lusmakertjie vir die skou, het die George Herald 'n kykie gekry in die fassinerende proses van mesmaak in Uys, 'n afgetrede polisieman, se goed toegeruste werkswinkel in sy agterplaas.
Mesmakers gebruik 'n spesifieke, hoëgraad staal waaruit daar eers 'n "profiel" gesny word.
Uys se staal word uit Oostenryk ingevoer. Die profiel gaan deur 'n dubbele bakproses teen temperature van meer as 1 000 °C om die staal te verhard, voor die werk op die slypmasjien begin om vorm aan die lem te gee.
Hierna volg 'n skuurproses met die hand voor die lem op 'n masjien gepoleer word. Dis 'n langsame proses, maar die lem kom blink en glad anderkant uit. Die mesmaker graveer sy unieke logo op elke lem, net soos 'n skilder sy naam op sy skilderye sit.
Hout of bokhoring word meestal vir die maak van die hef gebruik - 'n ewe sekuur proses.
Die sny van die mesprofiel (links lê drie profiele) is die begin van die mesmaakproses, 'n vaardigheid wat kreatiwiteit en geduld vra.
Uys verduidelik dat hy soms ook gietharpuis gebruik. Daarmee kan 'n interessante motief geskep word met enigiets, van mooi lap en knope, tot gras en strooi.
Skaf jy so 'n handgemaakte mes of byl aan, betaal jy 'n premie, maar jy kry 'n skede en 'n sertifikaat by wat die maker en ander spesifikasies sertifiseer.
'n Mes of byl hoef vir seker nie net 'n alledaagse gebruiksartikel te wees nie. Dis 'n kunsvorm.
Mesmaak is 'n langsame proses. Hier word die lem glad geskuur.
Die publiek kan 'n kykie kry in hierdie interessante wêreld by die skou op 24 en 25 Maart wanneer entoesiaste die beste uit hul versamelings ten toon stel.
Dit vind plaas in die agri-saal van die George-skouterrein.
Toegang is R10 vir volwassenes en R5 vir kinders van 18 jaar en jonger.
Belangstellende uitstallers kan vir Sarel bel by 083 444 5353.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'