KNYSNA NUUS - Na meer as 40 jaar by Laerskool Knysna – as leerder, onderwyser én as departementshoof in die grondslagfase, het mev Tequeena Terblanche op 31 Julie afgetree. Die skool het hulle opregte dank aan haar uitgespreek, vir haar lojale diens aan KPS.
"Ons wens haar baie voorspoed toe terwyl sy haar welverdiende aftrede geniet," het die skool gesê.
Op haar beurt, het mev Terblanche opgemerk dat aftrede iets is wat mens dink nog eendag gaan kom "en skielik is dit nou eendag". "Dit is met groot opgewondenheid en dankbaarheid dat ek hierdie nuwe era van my lewe betree," het sy gesê.
"Ek neem baie mooi herinneringe met my saam. Op skool het ek deelgeneem aan 'n debat met die onderwerp, 'Herinne-ringe uit die verlede is beter as hoop op die toekoms'. Nou is ek daar waar ek die herinneringe koester. In 1970 het ek in graad 5 my skoolloopbaan aan Laerskool Knysna begin. In 1981 het ek my onderwysloopbaan by Laerskool Knysna begin. Ek was bevoorreg om saam met my pa en my man skool te kon skool hou. Ek vertrou dat Laerskool Knysna net van krag tot krag sal groei en voortbou om 'n skool van uitnemendheid te wees," het mev Terblanche afgesluit.
'Ons bring jou die nuutste Knysna, Tuinroete nuus'