KAROO NUUS - Die bekende Kango-grotte net buite Oudtshoorn maak Vrydag 11 September weer oop na dit weens die landwye grendelstatus moes toemaak.
Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, het gesê die grotte lok jaarliks ongeveer 250 000 toeriste. Meer as die helfte van die besoekers kom van oorsee.
“Die aanvang van die Covid-19-pandemie en die gevolglike negatiewe impak daarvan op die ekonomie van die streek, het beteken dat die bestuur van die Kango-grotte saam met vennote van die Oudtshoorn-munisipaliteit baie mooi moes nadink oor die toekoms. Dit is die eerste keer sedert die 1900’s wat die grotte gesluit was,” sê Alison Moos, waarnemende bestuurder van die grotte.
Sy sê hoewel hulle opgewonde is om weer toeriste te ontvang moet hulle steeds die veiligheid van hulle personeel en besoekers in ag neem.
“Ons besef die ekonomiese impak van die pandemie was plaaslik, nasionaal en internasionaal en vir die volgende 18 maande gaan ons heelwat minder besoekers hê as voorheen.
"As deel van die nuwe regulasies en om die situasie beter te bestuur, gaan ons slegs die Erfenistoer deur die ses grootste kamers van die grotte doen. Die hoeveelheid mense per groep gaan ook tot 20 mense beperk wees sodat sosiale afstand gehandhaaf kan word. Die toer gaan elke 15 minute plaasvind.”
Die dra van maskers is verpligtend vir besoekers en personeel en almal moet ook gereeld hul hande ontsmet.
Almal wat die grotte besoek se temperatuur sal ook gemeet word.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'