TUINROETE | KAROO NUUS - As daar een saak is wat opnuut besef moet word, is dit die belangrike rol wat die kerk in die samelewing speel.
Dít is die mening van Solidariteit Helpende Hand wat vanjaar sy derde Helpende Kerke-kongres aanbied. Die eerste is in 2019 kort voor die bekendmaking van die Covid-19-inperkings aangebied.
Daarna kon die instansie weens Covid-19 vir twee jaar nie vergader nie, maar verlede jaar het dit weer in Pretoria plaasgevind. Vanjaar word dit vir die eerste keer ook in Kaapstad aangebied. Die tema vir 2023 se Helpende Kerke-kongres is, Christus se kerk – van agenda tot praktyk.
Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, sê die doel van die kongres is om 'n platform vir rolspelers te skep om saam te dink oor die opdrag om na mekaar om te sien en om saam te beplan hoe die samelewing die opdrag om mekaar lief te hê en te versorg kan uitvoer.
"Solidariteit Helpende Hand fokus op gemeenskapsontwikkeling, en ons is terdeë bewus daarvan dat dit nie moontlik is om gemeenskappe te ontwikkel sonder om die kerk se rol in die samelewing te beklemtoon en bevestig nie," sê Noëth.
Die kongres vind op 25 Mei van 08:00 tot 15:00 op die Vredenheim-wynlandgoed buite Stellenbosch plaas en op 1 Junie ook van 08:00 tot 15:00 by Batterboys Village, Montana.
Gou spring, want kaartjies is vir beide kongresse beskikbaar tot die 12de Mei en die kostes beloop R280 per persoon en R250 per persoon indien drie of meer persone van dieselfde instansie kaartjies vir die kongres bespreek.
Na die 12de Mei is die kaartjie R350 per persoon en indien meer as drie kaartjies terselfdertyd deur dieselfde instansie aangekoop word, sal die koste slegs R300 per persoon beloop. Alle kaartjies sluit 'n ligte ontbyt en middagete in.
Die program beloof om baie insiggewend te wees. Dit gaan fokus op die wie, wat, waar en hoe van kerkwees, die kerk in die gemeenskap, die kerk en gemeenskapsontwikkeling, die kerk en gawes in die gemeente, en die kerk in teorie en praktyk.
Die inligting sal veral van nut wees vir kerke se voorsitters, kerkraadslede, leraars, pastore, diakonieë en welsynsgroepe. Alle belangstellendes is welkom, maar slegs 'n beperkte aantal plekke is beskikbaar.
"Kom neem deel aan ons gesprek oor roeping, fokus, strukture, rooi ligte en vreugdes in die bou van 'n gemeenskap," sluit Noëth af.
Stuur 'n e-pos na kerke@helpendehand.co.za vir meer inligting of registreer aanlyn by www.helpendekerke.co.za.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’