TUINROETE | KAROO NUUS - Die ontplooiing van senior polisiebestuur en verskeie polisie-eenhede Maandag in die Tuinroete-distrik, as deel van die Wes-Kaapse Polisiëringstrategie, CEPPAT, het aansienlike resultate opgelewer.
Die misdaadbekamping- en opsporingsoperasies het padblokkades, voertuigkontrolepunte, deursoeking van dwelmafsetpunte, sowel as 'n geteikende benadering by taxistaanplekke ingesluit.
’n Toegewyde span polisielede van die vuurwapen-, drank- en tweedehandse goedere-eenheid het ook nakomingsinspeksies by gelisensieerde drankwinkels, sekuriteitsmaatskappye, skrootwerwe en tweedehandse handelaars begin. Gebiede wat tydens die operasies gedek is, het onder andere George, Mosselbaai, Knysna, Plettenbergbaai, Oudtshoorn, Uniondale en Ladismith ingesluit.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het dié operasies tot die arrestasie van 76 verdagtes gelei.
"Die arrestasies was vir 53 verkillende soorte misdrywe en 23 uitstaande lasbriewe. Daar is ook 'n verdagte vir die onwettige besit vir 'n ongelisensieerde wapen en ammunisie in hegtenis geneem, sowel as vyf verdagtes vir handel in dwelms, agt verdagtes vir die besit van dwelms, drie vir handel in dwelms, 29 ongedokumenteerde individue en vier vir die besit van vermoedelike gesteelde eiendom."
Spies sê daar is op 248 Mandrax-tablette beslag gelê, 815 gram dagga, 9 gram khat, 'n ongelisensieerde wapen met twee rondtes ammunisie en verskeie items wat vermoedelik gesteelde eiendom is.
Daar is ook 612 voertuie saam met provinsiale verkeer deursoek en R32 350 se boetes uitgeskryf.
Vorige artikel: Groot polisieoperasie in streek vandag
Dwelms wat tydens die polisieoperasie gekonfiskeer is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’