GEORGE NUUS - Die George-landbouskou wat elke jaar deur die Outeniqua-skougenootskap gereël word, vind vanjaar weer plaas by die skouterrein van Donderdag to Saterdag, 29 tot 31 Augustus.
Die program gaan vermaak verskaf vir oud en jonk met verskeie kuns- en kosstalletjies.
Landbou is goed verteenwoordig met afdelings vir beeste, skape, pluimvee, perde en nog baie meer.
Vir die manne word 'n oggendontbyt met Wessel Lemmer as gasspreker gehou, en soos verwag, gaan die minister van Landbou, dr. Ivan Meyer ook die geleentheid bywoon. Daar is nog kaartjies beskikbaar.
Daar word met groot opgewondenheid uitgesien wanneer die funksie vir die senior burgers plaasvind (Gryse Jeug). Mense van 60 jaar en ouer van oral in en om George word genooi vir 'n lekker bederf. Vanjaar sal twee kunstenaars die "Gryse Jeug" bederf, naamlik Andriëtte Norman en Michael Lindt. Daarmee saam word kolwyntjies en koffie en tee voorgesit. Indien jy nie meer 'n ouma en oupa het nie, kan jy 'n senior burger bo 60 jaar borg teen R20 per persoon.
Lees meer op ons susterskoerant, George Herald
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'