LEEFSTYL NUUS - Selfoonboodskappe wat fopnuus versprei, kan skadelik vir die foon wees.
Boodskappe met sensasionele inhoud of spesiale aanbiedinge wat net té goed klink om waar te wees, doen gereeld die ronde.
Meeste selfoongebruikers sien geen probleem daarmee om dit dadelik onder hul hele kontaklys te versprei nie.
By nadere ondersoek blyk die sogenaamde ‘bevestigde feite’ gewoonlik vals te wees en die spesiale aanbod is te goed om waar te wees. Teen daardie tyd kan dit reeds te laat wees om skade aan die ontvangers se selfone te verhoed.
Net soos rekenaars, is selfone kwesbaar vir virusse en ander skadelike sagteware.
Hoewel Android-stelsels bietjie meer bestand daarteen as Apple is, kan almal deurloop onder kuberaanvalle en fopnuusboodskappe bied uitstekende verspreidingsmoontlikhede vir sulke onheile.
Die algemeenste manier om onbedagte selfoongebruikers uit te vang, is deur ’n skakel in ’n boodskap te stuur. Wanneer daarop gekliek word om byvoorbeeld meer inligting te kry, maak dit die deur vir ’n kuberkraker (hacker) oop om skadelike sagteware oor te dra en beheer van die selfoon oor te neem. Kuberdiewe kan binne sekondes persoonlike inligting soos bankrekeningnommers steel.
Volgens Henry Hansen, rekenaartegnikus van Pakketmoles in Stilbaai, kan ’n selfoontoepassing soos Truecaller, wat gratis afgelaai kan word van die internet, help om nommers wat nie in die ontvanger se kontaklys is nie, te identifiseer. Jim Mahoney van Stilbaai Cellular wys egter op die moontlike gevare wat in die groot aantal advertensies wat noodwendig saam met ’n gratis toepassing versprei word, kan skuil. Op die ou end moet die gebruiker dit teen die voordeel wat Truecaller kan inhou, opweeg.
Beide kenners reken meeste tradisionele antivirusprogramme maak selfone onbruikbaar stadig. Mahoney beveel ESET aan, wat nie dieselfde uitwerking op die selfoon sal hê nie.
Daar is egter geen toepassing of antivirusprogram wat gesonde oordeel kan vervang nie. Moenie goedsmoeds ’n boodskap oopmaak as die sender onbekend is nie. Doen eers navorsing op webwerwe soos snopes.com, of hoax-slayer.net voor die boodskap aangestuur word. Vernietig die boodskap eerder sonder om dit te versprei, indien onseker oor die egtheid daarvan.
IN SHORT: Messages containing fake news and impossibly good special offers are not only untrue, but can be extremely harmful to cell phones. Hackers use links embedded in these messages to infect phones with viruses and malware while cyber thieves need only seconds to steal personal information. Use common sense at all times; do not open messages from unknown numbers and do not click on any suspect links. If at all unsure about the authenticity of a message, check it on websites such as snopes.com or hoax-slayer.net, or delete the message without forwarding.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'