KNYSNA NUUS - Eden-burgemeester Memory Booysen vertrek Sondag 24 September na Swede om te gaan kers opsteek oor hul afvalbeheer.
Die stortingsterrein in Mosselbaai wat vir die distrik beplan word en gepaardgaande uitdagings is die dryfveer agter die reis.
Booysen, die munisipale bestuurder Monde Stratu, en 'n munisipale regsadviseur, Nadeema Davids, gaan 'n kongres op 25 en 26 September in Stockholm bywoon.
Die besoek gaan sowat R106 000 kos.
Eden is genooi deur Business Sweden, die Sweedse handel- en investeringsraad vir samesprekings met relevante rolspelers, met die oog op 'n ooreenkoms tussen Business Sweden en die Eden-distrik.
"Eden is genooi op grond van hul prestasies in die verlede en die bekendheid van die Tuinroete," het Booysen gesê.
"Swede bemoedig groot nywerhede om oorsee te belê. Dit gaan van ons afhang om hulle te oorreed."
DA-lede van die Eden-raad het gister tydens die raadsvergadering ten gunste van die besluit gestem om 'n afvaardiging na Swede te stuur.
Lede van die ANC, Icosa en kleiner opposisiepartye het egter kapsie gemaak.
Volgens Piet van der Hoven (ANC), Theresa Fortuin (Icosa) en Virgill Gericke (verteenwoordiger van kleiner partye) is die regte prosedures nie tydens die besluitnemingsproses gevolg nie.
Gericke is van mening die burgemeesterskomitee het die rol van die raad in die proses oorgeneem.
Die DA het egter met 'n meerderheid van 18 stemme teen 14 vir die besluit gestem.
Dit sal Booysen se eerste oorsese reis wees.
Volgens Booysen kan die distrik by die Swede baat vind op verskeie platforms, waaronder vervoer, tegnologie, toerisme en hernubare energie.
"Dit is waarop ek fokus," het Booysen gesê. "Hernubare energie en die bestuur van vullisverwydering is ons grootste uitdagings.
"Swede is 'n kampioen met dit. Ek wil kyk hoe hulle ons kan help om daardie sisteem te dupliseer en moontlik te subsidieer.
"Vir elke rand wat ons spandeer (op die reis) verhoed ons 'n vullisramp."
'Ons bring jou die nuutste Knysna, Tuinroete nuus'