Hulle misnoë en weiering om die vergaderings by te woon spruit uit die samestelling van ‘n dissiplinere komitee wat enige toekomstige beweerde ongeruimdhede moet ondersoek.
Sonder die DA-kamp het die raad nie ‘n kworum nie en moet alle vergaderings gestaak word.
Die eerste saak wat deur die beplande komitee ondersoek sal word is bewerings van omkopery teen drie DA-raadslede, hoofsweep Patrick Murray en sy kollegas Henry McCombi en Johan Koegelenberg.
Die samestelling van die komitee is ‘n agendapunt, maar die DA wil hê die ANC moet voordat dit in die raad bespreek word ooreenkom dat al ses politieke partye verteenwoordig in die raad op die komitee sal dien. Dit sal beteken dat die DA, ID, Eden Forum, ANC, NPP en Icosa elk een lid op die sesman komitee sal hê.
Die DA het vanoggend aangevoer dat hulle nie die voorgeskrewe ses dae kennis van die vergadering gekry het nie. Volgens Murray kan slegs ‘n spesiale vergadering binne drie dae belê word en die kennisgewing van die munisipale bestuurder het glo nie van ‘n spesiale vergadering melding gemaak nie.
Murray sê hulle dring aan op 'n verteenwoordigende komitee om te verseker dat toekomstige verhore regverdig is. "As ons toelaat dat die ANC twee of meer lede op die komitee kry kan ons vergeet van geregtigheid. Ons wil ’n regverdige kans hê om ons name skoon te maak en ons reputasies in ere te herstel."
Die omkoopklag volg na ‘n Eden-amptenaar, Deon Nomdoe in sy eie dissiplinêre verhoor getuig het dat hy die huidige adjunk-burgemeester, Anthony Ewerts namens die drie DA-lede probeer omkoop het. Hulle wou glo hê dat Ewerts vir die DA-kandidaat Leon Dorfling as burgemeester stem in plaas van die ANC-kandidaat Faried Stemmet. Dorfling het die verkiesing gewen.
Die ANC-koalisie hou voet by stuk dat die samestelling van die komitee in ‘n oop vergadering bespreek en beslis word. Burgemeester Faried Stemmet sê die DA se optrede is skokkend. "Helen Zille hamer altyd op skoon regering en is baie uitgesproke oor korrupsie. Ek sal graag wil sien wat sy nou gaan doen. Die DA beskerm sy raadslede ten koste van dienslewering. Groot besluite moet geneem word."
Die speaker Stephen de Vries het gesê hy sal deur die loop van die dag weer met al die betrokke partye se hoofswepe praat en kyk of hulle tot ‘n vergelyk kan kom. "Ons moet weer ‘n vergadering belê sodat die dringende agendapunte kan aandag kry voor ons vir die feesseisoen sluit."
Intussen het die voorsitter van die DA se kiesafdelingbestuur in Oudtshoorn, Wessie van der Westhuizen ‘n verklaring uitgereik oor die feit dat tugverhore wat onder die DA se bestuur begin is onbepaald deur die amptenary van die ANC-raad uitgestel is.
Lees 'n verwante artikel hier: http://www.knysnaplettherald.com/news.aspx?id=3229

Na die beplande vergadering het verskeie Eden amptenare, die speaker en die burgemeester die media te woord gestaan. Van links is Eden se regsadviseur, Enrico Campher, munisipale bestuurder, Morné Hoogbaard, speaker Stephen de Vries, burgemeester Faried Stemmet en waarnemende bestuurder van strategiese dienste, Kelvin Vollenhoven. Heel agter links is die ANC se hoofsweep in Eden, Piet van der Hoven.
(1).jpg)
Eden DA hoofsweep, raadslid Patrick Murray saam met Eden DA-raadslid Emor Nel van Riversdal.
ARTIKEL: ILSE SCHOONRAAD