SUID-KAAP NUUS - Mense se lewens het vir altyd verander en hulle moet hul gereed maak vir groot aanpassings soos om nog vir lank 'n gesigmasker in die openbaar te dra.
Dit is die boodskap van gemeenskapsleiers aan inwoners van die Suid-Kaap aan die vooraand van die verligting van die inperkingstappe wat Vrydag in werking tree.
Memory Booysen, burgemeester van die Garden Route-distriksmunisipaliteit, sê mense moet aanvaar hul lewens sal nooit weer dieselfde wees nie. So byvoorbeeld sal alle mense hul tradisies moet hersien. Sommige optredes binne tradisies kan hulle blootstel aan die virus.
Die nuwe situasie het ook gevolge vir hoe mense gaan werk en vergader, en dit sal veral ook kontaksport raak.
Volgens Booysen is daar ook voordele. Paaie is stiller en veiliger.
Hy waarsku dat mense wat nog nie tegnologies bedrewe is nie, vinnig hul kennis sal moet opskerp.
Memory Booysen, burgemeester van die Garden Route-distriksmunisipaliteit.
George-raadslid Johan du Toit, 'n gemeenskapsleier en predikant, sê dit gaan 'n baie lang tyd wees voor mense kan terugkeer na wat hulle as normaal beskou het.
Dit gaan ook 'n impak hê op hoe mense kerk hou. Suid-Afrikaners is lief om mekaar te omhels of met die hand te groet. Hy voorspel dat dit totaal gaan verander.
Al is die inperking later verby, sal die virus steeds daar wees. Mense sal 'n nuwe lewenstyl volg.
Johan Jacobs, munisipale bestuurder van Hessequa, is oortuig dat mense se lewensuitkyk gaan verander. Mense het reeds begin om ander waardes aan te hang. Dit kan positief wees.
Opvallend vir hom die afgelope tyd is die toegeneentheid wat daar is. Dit is byvoorbeeld van mense wat het, teenoor die wat nie het nie.
Hy glo ook mense gaan minder reis. Hulle het begin gewoond raak aan video-vergaderings. Dit werk en spaar baie geld. Verbruikerspatrone gaan ook verander.
Gerrit Pretorius, speaker van die George-stadsraad, sê mense sal moet leer en aanvaar dat die gevolge van die virus nog vir jare met hulle gaan wees. Daar sal byvoorbeeld anders gedink moet word oor hoe, wanneer en wat mense eet.
Vanweë groeiende werkloosheid sal duisende huishoudings nie meer broodwinners hê nie. Sopkombuise is nie 'n permanente oplossing nie. 'n Era is bereik waar derduisende mense, as hulle gelukkig is, een maaltyd per dag sal eet, mits kos beskikbaar is. Die voedingswaarde van maaltye sal bepaal of dit tot gesondheidsprobleme sal lei wat op sy beurt nog 'n groter las op die skatkis van die staat sal plaas. Deel van 'n moontlike oplossing is gemeenskaplike groentetuine.
Dr. Michele Gratz, waarnemende munisipale bestuurder van Knysna en bekende gemeenskapsleier in die Suid-Kaap, sê tye van groot aanpassings wag. Al sou die inperking eindig, sal mense steeds 'n gesonde lewenstyl moet handhaaf soos byvoorbeeld gereeld hande was.
Sy glo ook daar gaan druk op munisipaliteite wees. Sommige sakeondernemings sluit hul deure en mense verloor hul werk. Dit sal beteken dat mense nie hul munisipale rekenings kan betaal nie. Hou ook in gedagte dat munisipaliteite nou bykomendse uitgawes het.
Gerrit Pretorius, speaker van die George-stads-raad. Foto: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'