Solomons het saam met talle leerders van verskeie laerskole en hoërskole in Knysna en Riversdal deelgeneem aan die kompetisie op 18 Augustus.
Solomons en ongeveer tien ander leerders van Hornlee Primêre Skool het deurgedring na die provinsiale kompetisie wat by die Universiteit van Stellenbosch (US) plaasgevind het op Saterdag, 15 September.
Dis tydens hierdie kompetisie dat Solomons haar Wes-Kaapse Graad 8-mededingers oortref het en die eerste plek verower het. Sy sal nou op nasionale vlak deelneem.
'n Opgewonde Solomons sien daarna uit om teen die ander provinsies se bestes te kompeteer op Saterdag, 20 Oktober.
Die projek is plaaslik aangebied deur Knysna Alkohol en Dwelmsentrum in samewerking met die Universiteit van Stellenbosch. Die universiteit se WOW-projek se spelfees is een van 28 projekte wat jaarlikse deur die US-Woordfeesprojek aangebied word.
Sowat 200 leerders van verskeie skole in Knysna het aan die kompetisie deelgeneem.
Die deelnemende skole sluit in Knysna Sekondêre Skool, Fraaisig Primêre Skool, Hornlee Primêre Skool, Sunridge Primêre Skool en Parorama Primêre Skool (Riversdal). Die doel van die fees was om leerders se taalkennis uit te brei om sodoende effektiewe taalgebruik te bevorder.
"Korrekte spelling is belangrik in die huidige kennisekonomie, waar beide funksionering op 'n basiese vlak en op 'n meer gevorderde niveau aangetas word as dit ontbreek," het Fiona Van Kerwel, projekbestuurder van WOWêrelde by die US. verduidelik.
Die kompetisie-element verleen ook 'n prestige waarde aan die spelfees wat dit gewild maak by skole. Die WOW-spelfees is gemeenskapsgerig deurdat dit benewens skoliere en onderwysers, lede van die breër gemeenskap, insluitend ouers en ondersteuners, bereik.
"Ek moet sê die opkoms van die ouers en talle ondersteuners was baie goed. Ek was baie beïndruk om te sien hoe ouers hul kinders motiveer om hul beste voet voor te sit. Dit was inderdaad 'n goeie spelfees wat almal opgewonde gehad het. Die kinders het dit heelwat geniet en die kompetisie was groot. Hierdie kinders kry nou die kans om hul kennis te verbreed, asook hul horisonne," vertel Franklin Laminie, Knysna Alkohol en Dwelmsentrum. Hornlee Primêre Skool is besonder trots op Solomons en wens haar alle voorspoed toe vir die nasionale kompetisie.
"Ek wil weereens alle ouers en opvoeders bedank vir hul ondersteuning en motivering tydens hierdie kompetisie. Ek is trots op Sheune en sal haar ondersteun tot daar waar die kompetisie eindig. Veels geluk op jou prestasie. Ek en vele andere van die gemeenskap en jou skool is baie trots op jou. Mag jy goed doen op nasionale vlak en nogtans ons dorp en jou skool se naam hoog hou. Dankie aan al die opvoeders en ouers wie die kompetisies bygewoon het asook diegene wie bygedrae het tot die sukses van die spelfeeste wat in Knysna gehou was," het Laminie gesê.

Hierdie leerders van Hornlee Primêre skool het ook deelgeneem aan die Provinsiale Woorde Open Wêrelde Spelfees op Saterdag, 15 September. Hulle het ongelukkig nie deurgedring na die nasionale vlak nie. Die skool is nogtans trots op die leerders wie hul skool goed verteenwoordig het. Van links is Nicolene Lawens (Graad 4), Adrozine Jim (Graad 1), Jasmeigh Kleinhans (Graad 2), en Danielle November (Graad 9).