TUINROETE | KAROO NUUS - De Rustica Estate se Coratina-olyfolie is verlede week, tydens die internasionaal bekende EVOOLEUM-toekennings in Spanje, as die wêreld se beste olyfolie aangewys.
Volgens Dawie Durand, algemene bestuurder van De Rustica Estate, is die EVOOLEUM-toekennings een van die grootste kompetisies waaraan hulle kan deelneem en was die toekenning ook 'n eerste vir Suid-Afrika.
"Dit was soos die wêreldbeker in olyfolie. Die kwaliteit van die Extra Virgin Olive Oils word getoets. Ons was een van 1 000 inskrywings wêreldwyd."
Hulle het 97 uit 100 punte verwerf.
Daar is 26 proeërs van 10 verskillende lande. Die monsters word nie gemerk nie, en die proeërs het dus geen idee watter olyfolie hulle proe nie. Die olies word dan uitgedun na die beste 100 waarna die bestes gekies word.
Bo en behalwe vir die feit dat die Coratina-olyfolie die beste olyfolie in die wêreld is, het dit ook die volgende kategorieë gewen:
- Beste in die Monovarieta/Single Cultivar-kategorie
- Beste Coratina
- Beste in die Mixture Green and Ripe Fruit-kategorie
- Beste van Suid-Afrika
Die Coratina het al verskeie pryse en toekennings plaaslik en internasionaal ontvang.
Van links is Andries Afrika, Kallie Frey (olie-somalier), Dawie Durand (algemene bestuurder) en Gaylon Stuurman. Foto's verskaf
Durand sê De Rustica fokus absoluut op die kwaliteit van hulle produkte.
"By ons is kwaliteit ons kultuur. Dit gaan ook oor eenvoud en die belangrikste is dissipline."
Kallie Frey is die man agter die olies. Hy was ook een van die mense wat destyds die eerste olyfbome op die plaas help plant het.
Volgens hom was dit vir hom 'n reuse-eer en voorreg om die toekenning te kan ontvang. Hy maak al sedert 2006 olyfolies nadat hy homself geleer het.
"Ek het van Engeland af na De Rust gekom waar ek gewoon het. Ek het verby die plaas gery en gedink: genade maar die bome is skeef. Ek het gestop by hulle en gevra of hulle hulp nodig het, en my pad saam met De Rustica het daar begin," vertel hy.
Volgens hom het hy homself geleer om olyfolie te maak.
"Daar is nie eintlik 'n resep nie, jy maak maar self een. Ek deel net nie myne nie. Die grootste geheim is om dit met 'n passie te doen."
Frey sê hy wil graag Rob Still, die eienaar van die plaas bedank.
"Hy gee ons vryheid om te toets en staan ons by deur dik en dun. Ek is geweldig dankbaar vir die geleentheid en dit is lekker om hom te kon trots maak."
Hy voeg by dat die prestasie nie sonder sy span moontlik sou wees nie.
"Ek het 'n ongelooflike goeie span wat met groot passie kom werk. Hulle wil van ons produk die beste produk maak. Dit is die mense wat van die snoei, plant en water gee van die bome verantwoordelik is. As dit nie vir hulle passie was nie, sou dit nie moontlik gewees het nie."
De Rustica Estate se olyfolieprodukte.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’