TUINROETE NUUS - Die gewilde Buffalo Rally-motorfietssaamtrek sal volgende jaar weer op Hartenbos gehou word.
Mosselbaai-munisipaliteit het bekendgemaak dat die Nomads-motorfietsklub van Kaapstad beplan om die saamtrek vanaf 23 tot 25 April 2021 by die ATKV se oord op Hartenbos te hou.
Vanjaar se motorfietssaamtrek sou op 3 April begin, maar is weens die koronavirus-pandemie gekanselleer. Munisipale woordvoerder, Nickey le Roux het die nuus oor die beplande datums verwelkom en sê die byeenkoms is ‘n welkome ekonomiese inspuiting vir Mosselbaai.
Le Roux sê die saamtrek skep jaarliks etlike tydelike werksgeleenthede vir Mosselbaaiers.
Die motorfietssaamtrek word sedert 2005 op Mosselbaai gehou, met die uitsondering van 2008 toe dit elders gehou is. Motorfietsryers van oral in Suid-Afrika, asook die buiteland woon jaarliks dié geleentheid by.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'