CALITZDORP NUUS - Dit is appelkoostyd in Calitzdorp en weereens tyd vir drie gunsteling geleenthede.
Die jaarlikse appelkoospluk vind plaas by die gewilde De Krans sowel as Boplaas.
Die Appelkoos-Jamboree word ook weer by die stasie buite Calitzdorp aangebied.
De Krans
Vanaf Woensdag 22 November tot 3 Desember kan lede van die publiek in die appelkoosboorde van De Krans invaar en hulle eie appelkose spotgoedkoop pluk.
Vir lafenis na die plukkery is De Krans se Bistro beskikbaar vir etes en die kelder se uitsoekwyne.
Vir navrae skakel De Krans by 044 213 3314.
Boplaas
Die bekende Boplaas familie wingerde se appelkoospluktyd het ook reeds op Maandag 20 November begin.
Hier kan lede van die publiek ook houers vol vars appelkose tot 2 Desember pluk.
Boplaas se gesellige Stoepsit restaurant is beskikbaar vir etes en wynproe.
Vir navrae oor Boplaas se appelkoosgeleentheid skakel 044 213 3326.
Appelkoos-Jamboree
Die gewilde Appelkoos-Jamboree waar konfyt gekook word en uithaler potjiekoskokke teen mekaar meeding, vind op Saterdag 9 Desember by die stasie plaas.
Daar word slegs 15 inskrywings vir die potjiekoskompetisie toegelaat.
Vir navrae en inskrywings skakel Andrew Rogers by 082 073 7709 of stuur 'n epos aan info@cchouse.co.za
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Karoo nuus'