TUINROETE NUUS - Is jy as ouer al radeloos oor hoe om die kinders tydens die winterskoolvakansie besig te hou?
Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het dan net die oplossing vir jou om hulle kreatief besig te hou en boonop kan hulle nog lekker pryse wen ook. Die Internasionale Afrikaans-Ekspo is ’n opwindende skryf- en kreatiewe kunstekompetisie wat fokus op leerders se kreatiewe hantering van Afrikaans.
Tesame met die feit dat dit pret is om deel te neem, word leerders ook gehelp met hulle skryfproses deurdat hulle terugvoer kry van die beoordelaars. Jou kinders kan gratis inskryf vir die kompetisie deur die volgende skakel te volg: https://ekspo.fak.org.za
Vanjaar se tema: Erfenis
Erfenis is al omskryf as “dit wat ons geërf het: die somtotaal van die natuurlewe en natuurskoon, plekke van wetenskaplike of geskiedkundige belang, nasionale monumente, historiese geboue, kunswerke, literatuur.”
Wat sien jy as erfenis?
Albertus de Klerk van Walvisbaai beskou die bloedrooi boontjiekerwer in sy ma se kombuis as sy erfenis. Die gesin is baie lief vir boontjiebredie en daarom het hy besluit om dié kerwer met sy kamera te verewig.
As foto’s dalk nie jou ding is nie, skryf ’n gedig, opstel of dagboekinskrywing oor iets wat jou baie na aan die hart lê of skilder dit.
Daar is sewe kategorieë waarin jy jou kreatiwiteit kan uitleef.
Dit sluit in dagboekinskrywings, 'n resensie, ’n opstel, ’n kortverhaal, poësie, fotografie en skilderkuns.
Jy mag in een of meer kategorieë deelneem.
Wie kan deelneem?
Alle graad 6- tot 12-leerders in Suid-Afrika en Namibië asook enige land ter wêreld waar Afrikaans as moedertaal of nie-moedertaal gebruik of bestudeer word. Ons moedig veral ook studente van Afrikaansdepartemente aan universiteite regoor die wêreld aan om deel te neem. Op hierdie wyse sprei Afrikaans sy internasionale vlerke.
Alle inskrywings moet teen 31 Julie 2018 ingehandig wees. Geen laat inskrywings sal aanvaar word nie. Inskrywing is gratis.
Wat kan jy wen?
Die wenskool ontvang R10 000 en die algehele wenner wat die uitblinker was en die tema die beste beskryf het, of dit nou deur ’n foto, opstel of gedig was, ontvang die wisseltrofee en R5000 kontant word gegee vir sy of haar skool.
'Ons bring jou die nuutste Knysna, Tuinroete nuus'