Video
SUID-KAAP NUUS EN VIDEO - Sou die Demokratiese Alliansie (DA) dieselfde resultate as in 2014-verkiesing kry, gaan sterk leiers in die huidige plaaslike owerheidsfeer in die Suid-Kaap en Sentrale Karoo waarskynlik die platteland se stempel behoorlik in die parlement kan afdruk.
Die DA kiesafdelingshoof van die party se Oosstreek en Sentrale Karoo-streek, Jaco Londt sê die party is opgewonde oor die vooruitsig om bewese gemeenskapsleiers soos dr Annelie Rabie, die burgemeester van die Sentrale Karoo Distriksmunisipaliteit, Mosselbaai se uitvoerende onderburgemeester, raadslid Dirk Kotzé, en leiersfigure soos Nicklaas Myburg, die burgemeester van Swellendam en andere in parlementêre strukture te kan ontplooi.
"My hoop is dat ons 'n Mosselbaaier in die Parlement verkies sal kry in die persoon van Dirk Kotzé. Die inwoners van Wyk 8 in Mosselbaai sal dan na afloop van die 2019 nasionale en provinsiale verkiesing in 'n tussenverkiesing 'n nuwe wyksraadslid moet kies," sê Londt. In die geval van proporsionele raadslede, sê hy, sal 'n herskikking op munisipale vlak plaasvind sou hulle tot die Parlement verkies word.
Hy het bygevoeg dat die kwaliteit van leierskapskandidate in die groter Mosselbaai werklik goed is.
"Wanneer dit goed gaan in 'n plaaslike regering, is soveel meer kwaliteit leiers bereid om by die bestuur van munisipaliteite betrokke te raak. As die Oosstreek het ons in die vorige verkiesing baie hard gepraat en gesê ons soek beter verteenwoordiging van die platteland in die Parlement. Dis net makliker om iemand van die platteland te hê wat die belange van die platteland op die hoogste vlak kan verteenwoordig.
Kyk 'n video hieronder.
Londt sê die DA ondervind wel dat die kiesers op plaaslike vlak gefrustreerd is, hoewel minder so in Mosselbaai wat onlangs deur Good Governance Africa as die beste munisipaliteit in die land aangewys is.
Hy sê die party het 'n positiewe verkiesingsboodskap, een van hoop, omdat die DA in die Wes-Kaap bewys het dat die party met behoorlike leierskap 'n verskil in mense se lewens gemaak het.
"Die DA sal natuurlik hul leierskap op 'n ander grondslag ook wil vergelyk, soos 'n DA-beheerde Wes-Kaap se prestasie met dié van 'n DA-beheerde Gautent of Noord-Kaap."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'