TUINROETE NUUS - Die Tuinroete het 'n verdere afname in die aantal aktiewe Covid-19-gevalle oor die afgelope week getoon.
Volgens die departement van gesondheid se syfers was daar op Maandag 20 September 2 093 aktiewe gevalle vergeleke met 2 683 'n week gelede.
Aangemelde sterftes weens Covid-19-komplikasies het ook afgeneem met die sterftesyfer in die week tot 20 September op 34 vergeleke met 60 sterftes in die voorafgaande week.
Volgens die gesondheidsproduk-reguleerder van Suid-Afrika (Sahpra) se syfers, is daar in die Tuinroete 29 gevalle van nadelige gevolge ná inenting aangemeld in die periode 17 Februarie tot 10 September.
Dr. Saadiq Kariem, hoofdirekteur-generaal van spesialis- en nooddienste by die Wes-Kaapse departement van gesondheid, het die syfers voorgehou by die weeklikse aanlynkonferensie van die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, verlede Donderdag (16 September).
In die Wes-Kaap is 645 gevalle van nadelige gevolge aangemeld waarvan 81,5% matig was en 16,43% ernstig. Uit die aangemelde gevalle het 409 herstel, 144 is besig om te herstel en 32 mense is dood. In 60 gevalle is die uitkoms onbekend.
Volgens Kariem word die sterftes, wat 4,76% van die totale aantal nadelige gevolge verteenwoordig, deur Sahpra ondersoek. "Tot dusver word dit nie met die inenting verbind nie," het hy gesê.
Die mees algemene nadelige gevolge is kopseer (18,1%), algemene liggaamspyn (15,1%) en hoë koors (hoër as 38°C - 9,9%).
Kariem het gesê die syfers dui daarop dat matige nadelige gevolge algemeen en van tydelike aard is. "Die ernstige newe-effekte is uiters skaars, en daar is geen kommer oor die langtermyn-effekte nie. Dit is veilig tydens swangerskap en vir vroue wat borsvoed. Daar is voortdurende veiligheidsmonitering. Vanuit ons perspektief, oortref die voordele van inenting alle bekende en potensiële risiko's by verre."
In die Tuinroete is 29 gevalle van nadelige gevolge weens inenting aangemeld.
'n Ontleding van die newe-effekte wat in die Wes-Kaap aangemeld is wys dat 81,4% matig was.
Die newe-effekte soos aangeteken deur die Wes-Kaapse departement van gesondheid soos op 10 September.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'