TUINROETE NUUS - Premier Alan Winde het op Dinsdag 7 Junie tydens 'n aanlynvergadering sy oproep op die regering herhaal vir die opheffing van Covid-19-inperkingsmaatreëls.
In die aanbieding het dr. Keith Cloete, Wes-Kaapse hoof van gesondheid, gesê die huidige oplewing in Covid-19-gevalle toon 'n afplatting.
Die provinsie het in Mei korstondig voldoen aan die tegniese definisie van 'n golf. Die gevalle het vir slegs twee weke op daardie vlak gebly en nie oor 1 200 nuwe gevalle per dag beweeg nie.
Die nasionale gesondheidsdepartement het nie hierdie oplewing as 'n Covid-golf verklaar nie.
In die Tuinroete was daar die afgelope twee weke 'n skerp afname in aangetekende Covid-19-gevalle.
Volgens die Wes-Kaapse Covid-19-inligtingsbord was daar op Dinsdag 7 Junie 634 aangetekende gevalle (George 293, Mosselbaai 180, Knysna 46, Bitou 41, Hessequa 35, Oudtshoorn 35 en Kannaland 4). Twee weke gelede was dit 1 110.
Volgens Cloete toon die Wes-Kaap se syfers 'n afname in ernstige siekte in die huidige oplewing. Dit was ook die geval tydens die vierde golf.
Hospitaaltoelatings in die provinsie het reeds sedert die tweede golf begin afneem toe die openbare sektor 369 mense per dag tydens die piek opgeneem het. Tydens die derde golf was hospitalisasies 297 tydens die piek en in die vierde golf 186. Dit staan tans op 45 per dag.
Die reproduksiesyfer (R) is steeds besig om af te neem en is tans ongeveer 0,55 vir die provinsie as geheel.
Volgens die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes se syfers bly die toetspositiwiteitskoers nasionaal onder 10%. Dit is af van 30% enkele maande gelede.
Hospitaaltoelatings in die provinsie het reeds sedert die tweede golf begin afneem en staan tans op 45 per dag.
Inenting se effek
Volgens Cloete was die risiko vir hospitalisasie en sterfte in die huidige oplewing in die Wes-Kaap 3,6 keer laer in mense wat geïnfekteer is, maar wat 'n opvolgdosis (booster) ontvang het. Opnames vir ernstige siekte waar ventilators, behandeling in die hoësorgeenheid of steroïede nodig was, was 4,3 keer laer in pasiënte wat 'n opvolgdosis ontvang het.
Daar is 'n afname in die vraag na inentings sedert April, maar die provinsie het daarin geslaag om volledige primêre dosisse toe te dien aan 70% van mense van 60 jaar en ouer.
Die risiko vir hospitalisasie en sterfte in die huidige oplewing in die Wes-Kaap is 3,6 keer laer in mense wat geïnfekteer is, maar wat 'n opvolgdosis (booster) ontvang het.
'Geen maskers, byeenkomsbeperkings'
Winde het gesê alle Covid-19-inperkingsmaatreëls op byeenkomste en die dra van maskers behoort opgehef te word om die ekonomie 'n hupstoot te gee. "Prakties beteken dit dat ons gemeentes, konvensiesentrums, stadions en ander ekonomiese spilpunte moet toelaat om volstoom en teen volle kapasiteit te funksioneer terwyl ons voortgaan om veilig op te tree soos ons deur die pandemie geleer het."
Hy wag vir 'n antwoord van President Ramaphosa op 'n versoek wat hy aan hom gerig het vir 'n dringende vergadering van die president se koördineringsraad sodat die provinsie sy jongste data kan voorlê.
"Die onlangse kwartaallikse werksmagpeiling het gewys dat ons land se werkloosheidsyfer 'n krisisvlak bereik het en dit moet met dieselfde dringendheid hanteer word wat ons aan die dag gelê het met Covid-19," het Winde gesê.
Hy het mense aangemoedig om ingeënt te word.
Syfers van die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement toon beskerming wat inenting teen ernstige siekte bied.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'