Advertorial
KNYSNA NUUS - Little Elephants Preprimêre Skool is in 2001 gestig onder die vleuels van Laerskool Knysna. Twintig jaar later kyk voormalige skoolhoof van Laerskool Knysna Rob Stoker terug:
Die vraag wat elke ouer van 'n kleuter vra is: "Watter voorskool moet ek kies?" Of "pre-primêr", soos ons dit in die volksmond noem.
In Knysna is daardie antwoord 'n nagmerrie, want daar is hordes van hulle. Hul name wissel van goggas en bye tot bosnimfies en klippe. Ouers het met die hande in die hare gesit en almal wou by Laerskool Knysna advies hê oor watter een die beste is. Wel, min van hulle is of was toe al aan te beveel, want elkeen "doen sy eie ding".
Dit is toe dat Laerskool Knysna die behoefte geïdentifiseer het om kinders wat in gr. 1 ontvang word behoorlik voor te berei vir "groot skool", want soveel leerders van die verskeie skooltjies het met die verkeerde vaardighede daar aangekom.
Party kon al gr. 3 boeke lees, maar het geen begrip gehad hoe om 'n kryt vas te hou nie, of wat hul ouers se name is nie. Maar hulle kon al lees en rekernaarspeletjies speel. Van boomklim het hulle niks geweet nie. WOW!
Fotogalery: Little Elephants Preprimêre Skool
'n Voorskoolse klas is gestig en die aantal kinders benodig om dit te laat gebeur was 12 leerders. Ai, toe skryf daar net nege in. Ons byt vas en besluit om een van die twee ou "prefab" klasse te omskep. Binne 'n maand moes ons die tweede een ook omskep. Die aansoeke stroom in en die juffrou, Mej Kimmel, en haar assistent, Juffrou Mota, lê 'n fondasie wat die klassies tot groot hoogtes sou lei.
Marshall Klein en Hannah Nicholson.
Die ou klasse was gou te klein en ons bestuur weet nie waarnatoe nie. Toe daag daar 'n ridder op 'n wit perd op - Mnr Herman Mellet, die hoof van Hoërskool Knysna. Hy bied ons die ou koshuise aan om te omskep in 'n pre-primêre skooltjie. Die visie: vier klasse, twee Engels en twee Afrikaans, 'n saal en kombuis en groot speelarea. Ons gryp die geleentheid met albei hande aan.
Daar was net een probleem: die gebou was beset deur mense wat daar ingetrek het en hulle wou nie saamwerk nie. Van hulle wou nie uit nie, ander het weer onmiddellik getrek en ons gehelp. Ek en Mnr Mellet het op die voorblad van Die Son opgeëindig en is uitgekryt as "die varke wat ons op straat wil sit".
Met die hulp van Nico Louw, die balju, het ons alternatiewe verblyf gekry vir almal wat dit nodig gehad het en ons het hulle selfs help trek. Niemand is op straat gegooi nie. Baie geld is bestee om die gebou skoon te maak en mooi op te knap en toe open "Little Elephants" sy deure met eie wapen en skoollied, wat deur personeel geskryf is.
'n Vorige hoof, Mev Ria Botes, en die huidige hoof, Esther Beyleveld, het die skool gelei tot die trotse skool wat hy nou is. Die skool met sy pragtige, vrolike mure en speelgronde, ruim, goed-toegeruste klasse en bekwame personeel, is nie net vir Laerskool Knysna 'n aanwins nie, maar vir die hele dorp. Hier vind kinders uit alle dele van die gemeenskap mekaar en leer saam om brûe te bou en by te dra om Suid Afrika 'n "suksesland" te maak.
Mag jul van krag tot krag groei en altyd 'n lig wees vir ons kinders. Wees gesëend.
En, o ja, Juffrou Mota is nog steeds daar.
Declan Elliot, Xavier Hildebrandt en Jandré Griesel. Foto's: Blake Linder
'Ons bring jou die nuutste Knysna, Tuinroete nuus'