Dit is maar net ‘n paar van die smullekker geregte wat jou smaakknoppies sal verlei by Just Fish in George.
Just Fish is ‘n ou bekende in George, maar op 1 September vanjaar het dié gewilde wegneemete-restaurant ‘n nuwe blaaitjie omgeslaan. Restaurateur, Johan van Tonder en sy verloofde, Alma Loubser het op Lentedag oorgeneem en besluit by Just Fish hoef jy nie net vis te eet nie.
Johan het voorheen ‘n baie suksesvolle MacRib besit en dit is duidelik te bespeur as jy wegval aan Just Fish se hemelse ‘spare ribs’. As die eienaar van MacRib in Klerksdorp, het Johan die toekenning vir die beste restaurant in die ganse Noordwes, Limpopo en die Vrystaat gewen. Hierdie kompetisie is deur Radio Oranje en die SABC geloods en aangebied deur die kosghoeroe, Isabelle Jones. Die beoordelaars het gekyk na higiëne, netheid, goeie gehalte kos en die beste diens en op die gala-aand in Bloemfontein het Johan met die louere weggeloop.
Hy sê topkwaliteit-produkte is die geheim van lekker kos. "Ons verkoop net die beste. Die geregte word vars voorberei van A-graad vleis en vis. Dit gaan alles oor ‘n gelukkige kliënt en dit is ook hoekom ons die spyskaart uitgebrei het. Ma en pa is dalk lus vir ‘n tradisionele vis en skyfies, maar die tienerseun lek miskien sy lippe af vir ‘n burger, ‘n hoenderschnitzel of ribbetjie. Ons fokus steeds op vis, maar nou kry jy ‘n gereg vir elke smaak."
Kliënte kan kies tussen diepgebraaide of geroosterde vis - die enigste wegneemete-restaurant in George wat jou dié keuse bied. Die diepgebraaide vis word ook op 'n baie spesiale manier gedoen wat verhoed dat die vis olierig is of dat die velletjie melerig word. Kraakvars en heerlik. Geroosterde of vars toebroodjies, koffie, tee en ‘n verskeidenheid koeldranke is ook beskikbaar.
As ‘n verdere kliëntediens verskaf hulle bevrore rou seekos, brood, melk, sigarette, lekkergoed en peuselhappies. "Ons kry ons bevrore seekos direk van Lusitania en merk net 10% by. Dit is gewaarborg die beste pryse in die dorp." Die bevrore reeks sluit onder meer garnale, calamari, ‘crab sticks’ en swart mossels in.
Just Fish is silwerskoon en kliënte kan sien hoe die vriendelike sjefs in die kombuis werskaf om die bestellings flink en perfek uit te rol. Hulle vriendelike diens is nie net tot die restaurant beperk nie en jy kan jou bestelling by jou werkplek of huis laat aflewer. En as jy jou vis en tjips in ‘n bakkie verkies, dan kry jy hom so.
Die gewilde snoepborde of ‘platters’ word saamgestel presies soos jy wil hê - vleis alleen, vegetaries, slegs seekos of ietsie van als.
Just Fish se pryse is so billik dat dit byna nie meer die moeite werd is om jou eie kombuis om te krap nie. Om van die lekkerte nie eers te praat nie. So doen jouself ‘n guns en gaan stel Just Fish op die proef. Jy sal baie bly wees jy het.
Winkel 32
Multi Sentrum
Markstraat
George
044 873 2526
Ma tot Vr: 08:00 - 18:00
Sa: 08:00 - 14:00
Just Fish is net agter Woolworths langs Markstraat en daar is tafeltjies binne en buite as jy sommer daar wil eet.
ARTIKEL: ILSE SCHOONRAAD