Gallery
GEORGE NUUS - Die amptelike opening van die sub-akute en palliatiewe sorgeenheid by die Groenkloof- mediese eenheid in George is op Woensdag 6 Februarie gehou. 'n Gees van kameraderie onder almal teenwoordig het geheers - soveel so dat die seremoniemeester moeite gehad het om die geleentheid stiptelik te open.
Die deftige, dog gesellige geleentheid is aangebied deur Groenkloof George se mediese span bestaande uit Kobus van Wyk (kliëntediensbestuurder), Charl Collins (sorgbestuurder), sr Maretha Combrinck (eenheidsbestuurder), Clayton Erasmus (mediesefondsbestuurder), terapeute, verpleegkundiges, dr. Elré van Heerden (palliatiewe onkoloog) en dr. John Beneke (sub-akute geneesheer).
Benewens die opening van die nuwe eenheid, was dit ook 'n funksie vir voortgesette professionele ontwikkeling en dis bygewoon deur spesialiste, onkoloë, algemene praktisyns, verpleegkundiges, hospitaalbestuurders, verpleegkundige bestuurders, terapeute, farmaseutiese borge en mediesverwante organisasies vanuit die hele SWD. Groenkloof spreek hul dank uit aan hul hoofborge: Cipla en Ampath Patoloë.
Twee insiggewende praatjies was op die program. Dr. Van Heerden se praatjie het gegaan oor 'die integrasie van palliatiewe sorg in die trajek van ongeneesbare siekte' en die tweede spreker, dr. Gregori Palkowski, het gepraat oor algemene geriatriese sindrome. In alledaagse Afrikaans beteken palliatiewe versorging die versorging van simptome (byvoorbeeld pyn) en einde van lewe versorging terwyl subakute eenheid 'n eenheid is waar pasiënte na 'n akute besering of siekte (wat in 'n hospitaal behandel is) versorg word op 'n meer koste-effektiewe en doelgerigte wyse deur rehabilitasie.
Die amptelike opening van die sub-akute en palliatiewe sorgeenheid by die Groenkloof- mediese eenheid in George is op Woensdag 6 Februarie gehou.
Groenkloof is reeds die afgelope 10 jaar 'n bekende naam in die Suid-Kaap in versorging. Die 94-bed Groenkloof George mediese sorgeenheid is twee jaar gelede voltooi en bestaan uit 'n 64 verswaktesorg-, 15 palliatiewe sorg-, en 14 sub-akute beddens. Die eenheid is toegerus met 'n gimnasium vir terapeutiese gebruik.
Maaltye in die eenheid word verskaf deur die kombuis wat onder bestuur staan van Pieter Pretorius en sy vriendelike toegewyde personeel, wat ook die heerlike kos vir die geleentheid voorberei het.
Besoekers is verbaas oor die tempo waarteen die ontwikkeling vorder. 'n Mens kan Groenkloof voorwaar as 'n "aftreedorpie" bestempel.
Jan Pienaar, uitvoerende hoof van Groenkloof, het gesê: "As 'n mens terugkyk, is dit met groot dankbaarheid dat dit vandag lyk asof die oorsponklike visie vir Groenkloof gerealiseer word soos blyk uit 'n boverwagte benutting van die mediese fasiliteite en dienste in die algemeen. Ons spreek definitief 'n groeiende behoefte van afgetredenes aan. Dit is eweneens baie bemoedigend dat Groenkloof ondersteun word deur 'n breë spektrum kundiges van 'n uitstaande gehalte soos weerspieël is deur die teenwoordiges by die geleentheid."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'