LANDBOU NUUS - Die voortdurende bedreiging van bek-en-klouseer (BKS) in die George-area is tans deel van plaaslike boere se daaglikse bestaan.
Die melkboer, Nelius van Greunen van die Van Greunen-boerdery, het aan die George Herald gesê boere is in groot onsekerheid gedompel.
Die virus is ’n onsigbare vyand en sy vinnige verspreiding is ‘n bron van diepe kommer. Daar is ook onderliggende woede oor die sentrale regering wat toegelaat het dat ’n siekte wat eens doeltreffend beheer was, handuit geruk het.
Van Greunen het ’n klompie vrae beantwoord om die situasie te skets waarmee hulle te kampe het.
V: HOE RAAK DIE UITBREKING VAN BEK-EN-KLOUSEER IN ONS AREA BOERE SE GEESTESTOESTAND EN FINANSIEEL?
A: BKS is ‘n hoogs aansteeklike virussiekte wat gespletehoefdiere aantas, siek maak en kan doodmaak. Aangesien dit ‘n vyand is wat nie met die blote oog waargeneem kan word nie, lei dit tot ‘n groot mate van onsekerheid, wat bekommernis, spanning en angstigheid meebring. Die lyding wat dit by diere kan veroorsaak en die ekonomiese impak wat dit kan meebring wanneer dit ‘n kudde tref, is geweldig. Die vinnige verspreiding van die virus is ‘n bron van diepe kommer by boere, veekundiges en veeartse. Dit is nie alleenlik die boere en die personeel op plase wat emosioneel hierdeur getref word nie, maar ook die veeartse en veekundiges wat in die voorlinie is om die verspreiding te voorkom, en waar dit toeslaan, die diere te behandel en die situasie te bestuur.
Daar is ‘n diepe ervaring van magteloosheid by sommige boere, onsekerheid en ook ‘n onderliggende woede dat die owerhede toegelaat het dat ’n siekte wat eens doeltreffend beheer was, handuit geruk het, deur die sentrale regering se hantering van die bedreiging, wat onvoldoende, te stadig en reaktief is.
In die Wes-Kaap word BKS meer proaktief bestuur as in ander provinsies, maar die nasionale respons is steeds beperkend. Melkbeeste word die ergste deur BKS geaffekteer, gevolglik is die ekonomiese en emosionele impak op melkplase die ergste.
Terugvoer vanaf plase en streke waar BKS-uitbrekings plaasvind, gee insig in die erge invloed op mens en dier. Kwazulu-Natal word tans die ergste geaffekteer en die ervaring daar gee insig en ‘n mate van riglyne hoe om ’n uitbreking van BKS te voorkom en te bestuur. Die kennis oor die impak dra by tot antisiperende spanning, maar bring ook ‘n kalmerende effek dat voorkomende maatreëls en gebeurlikheidsplanne in plek geplaas kan word.
Nelius van Greunen
V: WATTER INVLOED HET BEWEGINGSBEPERKINGS, ISOLASIE EN DIE EKSTRA KOSTE VAN BIOSEKURITEIT EN SANITASIE OP BOERE EN HUL GESINNE EN WERKERS SE DAAGLIKSE LEWE?
A: Bewegingsbeperkings is noodsaaklik om die verspreiding van die BKS-virus te beperk. Al skep dit logistieke uitdagings, ekstra koste en tydsdruk, stel dit belangrike protokolle en nakomingsvereistes in plek om verspreiding proaktief te voorkom.
Gesinne op plase moet by streng biosekuriteitsmaatreëls aanpas om diere veilig te hou terwyl hulle steeds met die daaglikse lewe voortgaan.
V: IS DAAR ROETINES OF ENIGE ONDERSTEUNING VAN MENSE WAT BOERE HELP OM DIE STRES WAT MET DIE SITUASIE GEPAARDGAAN TE HANTEER?
A: Daar is goeie ondersteuning van die privaat veeartse wat plase op ‘n gereelde basis besoek en goeie kommuniksie en advies verskaf, met kundiges en die owerhede skakel en boere help proaktief bestuur en voorberei om ‘n moontlike uitbreking te bestuur.
Die boere waarsku mekaar vinnig oor moontlike risiko’s deur middel van gemeenskaps- en landbougroepe. Die breë gemeenskap oor die algemeen toon begrip en empatie in hierdie situasie.
Geloofsgemeenskappe doen spesiale moeite met gebedsgroepe en individuele kontak om landbouers by te staan. Ek is persoonlik bekommerd dat ons veeartse en veekundiges aan die voorfront nie genoegsaam ondersteuning kry nie.
Daar is ook ‘n element van individue en instansies wat vals inligting versprei en sensasie soek, wat teleurstellend is. Daar is ook individue en instansies wat probeer muntslaan uit die onsekerheid wat heers en produkte en remedies probeer verkoop wat regtig geen bewese waarde inhou nie, maar alleenlik ekstra uitgawes meebring. Gelukkig is die kundigheid van goeie veeartse in ons gebied beskikbaar.
As landbougemeenskap is ons uiters dankbaar vir die begrip en ondersteuning uit ons breë gemeenskap, die plaaslike en provinsiale regering en die verantwoordelike media.
V: BOERDERY IS DEEL VAN ’N PERSOON SE IDENTITEIT – HOE BEÏNVLOED BKS JULLE PERSEPSIE VAN JULLESELF AS BOERE EN JUL TOEKOMS IN DIE BEDRYF?
A: BKS beklemtoon opnuut ons as boere se rol as versorger van ons diere, ons mense, plase en ondernemings en die groot verantwoordelikheid wat ons dra. Ook as produsente van veilige, bekostigbare voedsel vir ons bevolking.
Ons kwesbaarheid in BKS se teenwoordigheid staan sterker uit. Die noodsaaklikheid om nie uitgelewer te wees aan ‘n oneffektiewe burokratiese bestel wat ons diere, plaasmense en verbruikers op risiko plaas nie, kom sterk in die soeklig. Ons as boere moet waak dat ons voortbestaan nie bedreig word nie.
Boere van Outeniqualand-distrik tydens 'n noodvergadering net nadat BKS in die Hartenbos-omgewing bevestig is vroeg in Februarie. Foto: Alida de Beer
V: PRAAT BOERE MET ANDER OOR DIE EMOSIONELE IMPAK VAN DIE UITBREKING (MET FAMILIE, VRIENDE OF PROFESSIONELE PERSONE)?
A: Ons praat daagliks in ons huise, werkplekke en gemeenskappe oor die impak en ons ervarings. Ons herinner mekaar dat ons aktief moet optree, maar nie paniek moet veroorsaak nie. Ons as boere en ons ondersteuningsbasisse is saam hierin en ondersteun mekaar.
Ons doen alles moontlik om op ‘n wetenskaplik gefundeerde wyse die epidemie te bestuur. Dit is egter so dat ons sonder geloof nie kan boer nie. Die vaste wete dat ons Hemelse Vader in beheer is en sal voorsien, gee vir ons rustigheid, vrede, insig en krag.
V: WATTER ONDERSTEUNING OF KOMMUNIKASIE (VAN DIE REGERING, LANDBOU-ORGANISASIES, GEMEENSKAP OF PROFESSIONELE DIENSTE) SAL HELP OM ONSEKERHEID EN VREES TE VERMINDER?
A: Ons het nodig om vanaf owerheidskant effektiewe en proaktiewe funksionering te ervaar. Aangesien BKS ’n statutêr beheerde siekte is, moet die owerheid proaktief en effektief optree en die privaat veeartse en boere in staat stel om die siekte se verspreiding te keer en behandeling vinnig en doeltreffend toe te pas. Statutêre beperkings wat die situasie vererger, is onnodig. Verskaffing van genoegsame entstof is nou hoogste prioriteit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’