LANDBOU NUUS - Altesaam 1,2 miljoen huishoudings in die land besit lewende hawe en rooivleis speel ’n belangrike rol in inkomste- en voedselsekerheid.
Mens kan dus verstaan hoekom die bedryf tydens die Covid-19 inperking as noodsaaklik geklassifiseer is.
“Ondanks uitdagings - soos veilings wat in sekere provinsies gestop is - loop die waardeketting relatief goed,” sê Louis Wessels, Agri Wes-Kaap se bestuurder: regsdienste en administrasie, asook voorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) in die provinsie. “Ons vertrou die vlak 4-maatreëls wat aangekondig is, sal die veilings voortaan vlot laat verloop.”
Volgens hom is daar geen model wat aanduiding kan gee van wat Covid-19 inhou nie en voorspellings kan nie gewaag word nie. Maar daar is sekere faktore wat ’n rol kan speel.
Faktore
- Die ekonomie sal na raming 6% inkrimp en dit sal ten minste twee jaar neem om weer dieselfde vlak as voor die pandemie te bereik. Dis belangrik, want die verbruiker se koopkrag beïnvloed rooivleisverkope;
- Die mielie-oes sal na raming ongeveer 16 miljoen ton beloop, wat ’n relatiewe laer prys tot gevolg kan hê en wat positief vir die voerkraalbedryf sal wees;
- Die wisselkoers het weens die onlangse afgradering van die ekonomie baie geval, wat geleenthede vir uitvoer skep en invoere sal teenwerk;
- Oponthoude by hawens - veral na China - verloop nou vlotter;
- Aankope van rooivleis het deel van noodaankope gevorm en dit bly gesog omdat verbruikers dit weens die hoë voedingswaarde hoog aanskryf;
- Die plaaslike mark gebruik 95% van die plaaslike beesvleisproduksie en 5% word uitgevoer, terwyl 98% van die skaapvleis plaaslik verbruik en net 2% uitgevoer word.
Ander markte
Terwyl Brasilië se uitvoere na China byna verdubbel het, moet ander belangrike bilaterale handelsooreenkomste ondersoek word. Hoofsaaklik been-in-snitte word na China uitgevoer en die snitte van hoër kwaliteit kan gebruik word om ander markte te teiken. “Brasilië se uitvoere na China laat dit vir ons ’n gaping in die ander markte en groot uitvoergeleenthede na Saoedi-Arabië en die Midde-Ooste bestaan.”
Bemarking van die vyfde kwart (afval) sal hervat namate informele handelaars toegelaat word om weer handel te dryf. “In die winter sal die vyfde kwart hoër waarde hê. Dit is krities belangrik dat die informele mark voortgaan, veral omdat die mark vir huide en velle wat bykans tot stilstand gekom het, ’n negatiewe uitwerking op produsentepryse het.”
Veediefstal
“Covid-19 plaas baie druk op die ekonomie en ons het oornag ’n verdubbeling in potslagtings veral naby die stedelike gebiede gesien,” sê Wessels. “Die situasie is vererger omdat plaaswagte nie patrollies kon ry nie.”
Veediefstal het drasties gedaal toe veilings weens bek- en-klouseer gestaak is. “Omdat veilings in die toekoms gereguleer gaan word en geen ongemerkte diere verhandel sal word nie, sal veediefstal hopelik ook beter bekamp word - veral as die naspeurbaarheidstelsels inskop.”
Hy meen Suid-Afrika is gelukkig om gespesialiseerde veediefstaleenhede te hê “Die RPO doen ook baie moeite om veediefstal-voorkomingsforums op nasionale en provinsiale vlak te hê. Hierdie strukture is baie doeltreffend en boere word genooi om daarvan gebruik te maak.”
Die voorkoming van veediefstal bly egter die eienaar se verantwoordelikheid en hy moet toesien dat sy vee volgens voorskrif gemerk is en diefstal onmiddellik aangemeld word.
Dear reader, As your local news provider, we have the duty of keeping you factually informed on Covid-19 developments. As you may have noticed, mis- and disinformation (also known as “fake news”) is circulating online. Group Editors (publications and online platforms) is determined to filter through the masses of information doing the rounds and to separate truth from untruth in order to keep you adequately informed. Local newsrooms follow a strict pre-publication fact-checking protocol. A national task team has been established to assist in bringing you credible news reports on Covid-19.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'