LANDBOU NUUS - Die departement landbou bied op Dinsdag 13 Maart 'n vleisbeesboeredag by die George-skouterrein aan.
Van die onderwerpe wat bespreek sal word, is ekonomiese speenkalfproduksie, waarvoor die produsent moet verseker dat twee produksie-eienskappe optimaal funksioneer.
"Hierdie eienskappe is koeidoeltreffendheid en speenkalfgewig," sê prof. Robin Meeske van die Outeniqua-proefplaas.
"Die identifikasie van koeie wat doeltreffend produseer ten opsigte van hierdie faktore is uiters belangrik.
"Hierdie faktore moet egter nie net op individuele koeie nie, maar vir die kudde as geheel verfyn word om die kudde se totale ekonomie te verbeter.
"Verskeie weidingskultivars, aangepas vir 'n spesifieke reënval en area kan aangewend word om die koeifabriek optimaal te laat produseer.
"Verdere produksieopsies is om eie kalwers af te rond op weiding of die voerkraal," sê Meeske.
Hierdie is van die aspekte toegelig sal word tydens die boeredag. Die sprekers is Adrian Cloete van 'Grassfed South Africa' (gasspreker), Louis Wessels van die Rooivleisprodusenteorganisasie, Sigrun Amman en prof. Robin Meeske van die Outeniqua-proefplaas en dr. Bennie Grobler (veearts).
Ben Booysen sal ook onlangse navorsingsinligting oor 'n vergelyking van verskeie beesraskruisings met Jersey-koeie en die intensiewe afronding van hierdie diere deurgee.
Registrasie vir die dag begin om 08:30.
Toegang is gratis.
Boere wat belangstel, kan vir Manie Grobler kontak by manieg@elsenburg.com of 079 699 1159.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'