Die veiling is in die lewe geroep om boere die geleentheid te gee om van hulle spogdiere wat in die omgewing aangepas is, te koop aan te bied. "Hierdeur kry medeboere die kans om goeie teelmateriaal wat in hulle omgewing aangepas het, te bekom," sê Leon van Rooyen, een van die stigters, van die plaas Applegrove in die Geelhoutboom-area.
Die veiling vind plaas onder die vaandel van Griekwaland-Wes Korporatief (GWK) en al die diere word onder beskerming van die verskillende rasgenootskappe aangebied.
"Wat merkwaardig is, is dat die veiling sewe verskillende rasse aanbied en feitlik al die diere kom uit rooiwater- en galsiek-areas. Daar word gepoog om genoeg vroulike diere vir elke manlike dier wat op die veiling aangebied word, beskikbaar te stel sodat 'n voornemende koper onmiddellik 'n billike pakket kan bekom om 'n boerdery te begin," sê Van Rooyen.
Alle bulle op die veiling sal geregistreer en onderworpe wees aan streng gesondheidstoetse. Vroulike diere wat geregistreer en kommersieel is, se dradigtheid-status en gesondheidstoestand sal ook tydens die vei-ling beskikbaar wees. "Die kwaliteit van al die diere is nie onderhandelbaar nie," sê Van Rooyen.
Van Rooyen gaan uit sy eie Tuiniqua Sussex-stoet drie stoetbulle en 22 vroulike diere op die veiling aanbied.
Die volgende diere word deur die ander telers aangebied:
- Simmentaler: W Stander, Stansim-stoet - twee stoetbulle en vier vroulike diere;
- Simmentaler: R Bunting, Rubisim-stoet - een stoetbul en 22 vroulike diere;
- Boran: H Raal, Hessie Boran-stoet een stoetbul en twee vroulike diere;
- Limousine: K Watson, Limoger-stoet - twee Limoger-stoetbulle;
- Limousine: H Potgieter, Limerich-stoet - twee stoetbulle en 10 vroulike diere;
- Bonsmara: H Potgieter, Limerich-stoet - een stoetbul en 10 vroulike diere;
- Bonsmara: Saag Jonker-boerdery - 20 vroulike diere;
- Herefords: P de Waal, Locheim-stoet - twee bulle;
- Herefords: Saag Jonker-boerdery - agt vroulike diere;
- Rooi Poena: P van Wyk, Cetkragga-boerdery - een bul en drie vroulike diere.
Op Maandagaand om 18:00 sal daar ook 'n verkopers/kopersfunksie by die George-skouterrein gehou word.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete | Klein-Karoo nuus'