TUINROETE NUUS - 'n Groot verskeidenheid veteraantrekkers van die Suid-Kaap Veteraantrekker- en Implementeklub sal weer soos verlede jaar by die 2017 George Landbouskou ten toon gestel word.
Gratis sleepwaritte (op eie risiko) sal met van die veteraantrekkers en waentjies vir skougangers beskikbaar wees. Weens groot belangstelling en opgewondenheid tydens verlede jaar se skou, sal daar vanjaar weer kragte gemeet word tussen toutrekspanne en van die veteraantrekkers.
'n Nuwe hoogtepunt vanjaar is 'n demonstrasie van grondvoorbereiding tot en met die saai van saad – alles met behulp van veteraantrekkers en -implemente. Dié leersame demonstrasie sal op Saterdag, 26 Augustus vanaf 11:00 reg agter die ovaalbaan plaasvind.
Later Saterdagmiddag sal daar op die ovaalbaan 'n kompetisie aangebied word tussen veteraantrekkers om te bepaal watter trekker die stadigste kan loop en watter een die vinnigste.
Skougangers sal teen 'n minimale bedrag kan poseer by die alombekende 1962 Massey Ferguson trekker wat pienk en pers gerestoureer is in medelye met almal wat die geveg teen kanker verloor het.
Almal word hartlik uitgenooi om die bedrywighede van die klub te ondersteun by vanjaar se George Landbouskou vanaf 24 tot 26 Augustus. 'n Volledige program met tydskedules sal in die George Herald asook op die skouprogram verskyn.
'Ons bring jou die nuutste Knysna, Tuinroete nuus'