OUDTSHOORN NUUS - ‘n Uitgebreide toneelaanbod by die Absa KKNK vanjaar sluit 30 produksies in waarvan 17 vir die eerste keer op die fees te sien sal wees.
Die KKNK vind vanjaar van 2 tot 9 April plaas.
Die debuutwerke dek 'n breë spektrum temas en sal tot uiteenlopende gehore spreek. Dit is veral werk uit die pen van Afrikaanse dramaturge wat vanjaar se oes opwindend maak. Reza de Wet se 25 jaar in die Suid-Afrikaanse teaterbedryf word onder andere gevier in Die See, 'n toneelstuk waarin Reza ook vir die eerste keer in twee dekades die verhoog sal betree. Marlene van Niekerk se debuutwerk vir die verhoog, Die kortstondige raklewe van Anastasia W ('n medeproduksie met Aardklop), wat handel oor die weerloosheid van die gebrutaliseerde mens, beloof om gehore aan die hart te gryp.
Verder is Ingrid Winterbach se Spyt te sien, 'n verhoudingsdrama met donker humor, aangebied deur 'n uitblinker geselskap. Amanda Strydom is vanjaar te sien in 'n splinternuwe musiekteaterproduksie, Binnekamer, wat spesiaal vir haar geskep word deur die Hertzog-pryswenner Deon Opperman en musiekvirtuoos Janine Neethling.
Bekende stemme
Daar is ook bekende stemme in nuwe rolle. Met Bullets over Bishop Lavis hou Christo Davids vir die eerste keer sy lyf dramaturg in 'n spitsvondige debuut wat die gehoor bekend stel aan 'n gemeenskap waar misdaad, dwelms en bendes 'n werklikheid vir die karakters is. Nóg 'n debuut wat indringende sosiale kommentaar bied, is My naam/my name is Ellen Pakkies wat die aangrypende ware verhaal vertel van 'n Kaapse vrou (gespeel deur Vinette Ebrahim) wat uit despe-raatheid haar tikverslaafde tienerseun (Christo Davids) om die lewe bring. Dié relevante tema word geskryf en geregisseer deur Lizz Meiring, wat ook, benewens haar bekendheid op die verhoog, as 'n gerekende dramaturg beskou word.
Wilna Snyman se loopbaan in die kunste word op spesiale wyse gevier met die toneelstuk Klaasvakie, geskryf deur Vlaming Laurens de Vos met vertaling en regie deur Marthinus Basson. Antoinette Kellerman en Nicole Holm is verder in die rolverdeling van dié hartroerende stuk wat gaan oor die aftakeling van bejaardes wat hulle tyd verwyl deur hul verlede te herbesoek.
Die internasionale feeskomponent word vanjaar ook versterk deur die Nederlandse De Appel-toneelgroep (skeppers van Ararat in 2009) wat terugkeer na die fees met Messe in Henne - 'n hoogtepunt onder die omgewingspesifieke stukke wat die komplekse verhouding tussen 'n boer, sy vrou en die misterieuse meulenaar op die dorp bekyk.