SUID-KAAP NUUS - Die negende Klein Karoo Klassique-fees wat in Augustus plaasvind, bied vanjaar 'n nuwe musiekervaring aan feesgangers. Musiekliefhebbers kan vanjaar vir die eerste keer 'n restaurant teaterervaring by die Windpomp agter die NG Moederkerk, geniet.
Twee musiekuitvoerings en smulkos word by dié teaterrestaurant wat vir die eerste keer tydens vanjaar se KKNK oop was, aangebied. Die winterfees van klassieke musiek, kuns, kos en wyn, word van Vrydag 11 tot Sondag 13 Augustus aangebied.
"Vrydagaand kan feesgangers uitsien na An Evening of Jazz met van die finaliste uit hierdie jaar se Artscape Youth Jazz-mentorskapprogram.
Op die program is beide Suid-Afrikaanse en klassieke jazz," sê Rhodé Snyman, uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk, die maatskappy wat Klein Karoo Klassique aanbied. Topmusici wat as mentors vir dié jong kunstenaars opgetree het, sluit in Amanda Tiffin, Camillo Lombard, Shaun Johannes, Frank Paco en Marc de Kock.
Die bekende pianis, Sulayman Human, keer Saterdagaand terug na sy tuisdorp vir 'n Aand met Sulayman Human. "Hierdie optrede is 'n moet vir liefhebbers van klaviermusiek.
Sulayman speel Mozart se Sonate in C majeur, KV330, Chopin se Berceuse in D-mol majeur Op.57, asook musiek van Schubert, Rachmaninoff en Kapustin," vertel Snyman.
Volgens Snyman word aandetes in Die Windpomp Restaurant Teater vanaf 19:00 bedien en feesgangers kan smulgeregte, met bestanddele uit die Klein-Karoo en omgewing verwag.
Die musiekoptredes begin om 21:00 en kaartjies hiervoor sluit nie aandete in nie. "Kom geniet 'n restaurant teateraand met heerlike kos en ongelooflike musiek saam met ons," sluit Snyman af.
Kaartjies vir optredes in Die Windpomp Restaurant Teater is beskikbaar by Kuns-te Onbeperk se kantoor of 044 203 8600. Etes word by die restaurant bespreek en betaal.
Saterdag en Sondag kan daar tussen 11:00 en 18:00 wyn en deli-produkte in die area buite die CJV-saal geproe word. Ligte etes word ook deur die dag by die restaurant bedien en dit is nie nodig om 'n uitvoering by te woon, om die proeë en etes te geniet nie.
Koffie deur Oudtshoorn se eerste koffiebrander, Beans about Coffee, help ook om die winterkoue te verdryf.
Musiekuitvoerings
Die agt musiekuitvoerings op Klein Karoo Klassique se musiekprogram, sluit in:
• CH2 in konsert met Corneille Hutten en Dirkie van Staden (kitaar).
• Vivaldi se Vier Seisoene herbesoek met Petrus de Beer (viool), Stanislav Angelov (trekklavier) en Schalk Joubert (baskitaar en voordrag).
• Folk Baroque met die Camerata Tinta Barocca.
• Alleenstryd: Hendrik Hofmeyr Huldigings-konsert met Minette du Toit-Pearce (mezzo-sopraan), Lauren Dasappa (sopraan), Jolene McCleland (mezzo-sopraan), José Dias (klavier) en 'n gasoptrede deur Hendrik Hofmeyr.
• Carmen – in die kleine met Jolenne. McCleland as Carmen (mezzo-sopraan), Lauren Dasappa as Michaëla / Frascuita (sopraan), Linette van der Merwe as Mercédès (mezzo-sopraan), Chris Mostert as Don José / Le Remendado (tenoor), Niël Rademan as Escamillo (bariton) en Raimondo van Staden as Le Dancaïre (bariton);
• Spieëldans in die maanlig met Jana van der Walt (harp) en Rina Schutte (tjello);
• Beethoven Tango met Zanta Hofmeyr (viool) en Charl du Plessis (klavier);
• ATKV Afsluitingskonsert met Megan-Geoffrey Prins (klavier), Tatiana Thaele (fluit), Palesa Malieloa (sopraan) en Philippus Hugo (klavier).
Kaartjies vir dié musiekuitvoerings is beskikbaar by Computicket, Shoprite/Checkers en House & Home teen R125 elk. Al vanjaar se uitvoerings word in die NG Moederkerk aangebied, waar daar ook 'n CD-winkel bedryf word.
'Ons bring jou die Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'