TUINROETE NUUS - Die inwoners van die Suid-Kaap is die res van die land een voor - hulle kry volgende week, Woensdag 22 September, die eerste geleentheid om die splinternuwe Franz MarX-film, Susanna van Biljon te sien voordat dit die volgende dag in die res van die land uitgereik word.
Gewoonlik is dit die groot stede soos Kaapstad, Johannesburg of Pretoria wat hierdie voorreg beskore is, maar Franz Marx Films het besluit dat die inwoners van die Eden Distriksmunisipaliteit die eerste geleentheid moet kry om die rolprent te sien.
"Die mense in die Suid-Kaap het vroeër vanjaar uit hul pad gegaan om die produksiespan tydens verfilming van Susanna van Biljon te akkommodeer. Inwoners van Uniondale het as’t ware die sleutels van die dorp vir ons gegee om ons taak te vergemaklik," vertel Burgert Müller, uitvoerende vervaardiger van Susanna van Biljon. "Dis ons manier om vir hierdie mense dankie te sê."
Etlike tonele is in Uniondale verfilm en sowat veertig inwoners van die dorp het as ekstras opgetree. Sommige strate in Uniondale is afgebaken vir die verfilming en talle boere in die distrik het ook hand bygesit met die tonele wat op plase verfilm is. Inwoners van Uniondale en George het gehelp om vervoer- en akkommodasiereëlings te vergemaklik. Stanmar Motors in George en die Herold’s Bay Hotel was hoofborge in dié verband.
Karin Leggat, wat die produksie in Uniondale gekoördineer het, vertel dat die inwoners van Uniondale baie opgewonde is om die rolprent te sien.
"Susanna van Biljon het Uniondale as 't ware op die map gesit," vertel sy.
Van die tonele is ook by vanjaar se Klein Karoo Nasionale Kunstefees op Oudtshoorn verfilm en die KKNK-be-stuur en fees-gangers het hul volle samewerking gegee.
Susanna van Biljon is 'n romantiese rolprent met 'n verskeidenheid musiekgenres wat wissel van klassiek, boere tot kontemporêre musiek. Karen Zoid, Marié du Toit, David Rees, Anna Davel, Shaleen Surtie-Richards, Nico Panagio, Wilna Snyman, Lillian Dube en Louis van Niekerk is van die groot name wat in die rolprent speel.
Nicholis Louw maak sy rolprentdebuut en 'n string gewilde glanspersoonlikhede soos Amor Vittone, Desmond Dube, Eagan Williamson, Rina Hugo, Jakkie Louw, Nianell, Kurt Darren en Ray Dylan maak gasoptredes.
Susanna van Biljon word op 23 September landwyd uitgereik.
Anna Davel, Marié du Toit en Shaleen Surtie-Richards is maar ‘n paar van die bekende name in Susanna van Biljon.