VERMAAKNUUS - Meer as vyfhonderd bydraes van ongepubliseerde digters is teen die sluitingsdatum, Sondag 28 Februarie, ontvang vir die bundel pandemiegedigte, Maskers en mure, wat binnekort die lig sien. Daarbenewens het sowat tagtig gevestigde digters ook verse gelewer.
Die digbundel se bekendstelling word vir die begin van Mei of selfs ietwat vroeër, beplan.
Maskers en mure word deur Turksvy Publikasies wat in Oudtshoorn gevestig is, uitgegee.
Dit word saamgestel deur die digters, Daniel Hugo en Francois de Jongh, onder redaksie van Hugo en Hannes Visser, redakteur van Oudtshoorn Courant, wie se digbundel Die jaar toe pa … in 2019 verskyn het. Maskers en mure word gepubliseer in samewerking met die KKNK, met die ondersteuning van die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport.
Hugo, wat tans met die finale keuringsproses besig is, het by navraag gesê uit die werk van die ongepubliseerde digters sal ongeveer vyftig topinskrywings vir publikasie gekies word. Alle verkose digters uit dié groep sal teen 15 Maart ingelig word.
“Die reaksie was oorweldigend. Nadat ons ongepubliseerde én gepubliseerde digters so ses weke gelede op verskeie aanlyn platforms versoek het om bydraes te lewer, het dit daagliks ’n konstante stroom inskrywings van oor die hele land geword. Mense van alle ouderdomme en beroepe het ingeskryf. Ook ’n hele paar uit die Karoo en die Suid-Kaap. Dit is interessant hoe na aan die hart die afgelope jaar van inperking mense lê. Almal ervaar dit op sy of haar unieke manier. Niemand kyk deur presies dieselfde oë na die pandemie en die maande van afsondering nie. Elkeen het dit op sy eie manier probeer verwerk - met óf ontsteltenis, óf optimisme, óf berusting, óf humor. Ek glo die skryf van gedigte is ook ’n manier om te verstaan wat met die wêreld gebeur het.”
Volgens Visser het die reaksie van digters hom aangenaam verras. "Ek kon nie glo toe Daniel my laat weet hy het reeds 80 gedigte van gevestigde digters ontvang nie en dat meer as 500 voorleggings van ongepubliseerde digters ontvang is nie. Hierdie gaan 'n unieke bundel wees wat in digkuns hierdie vreemde tyd vasvang. Ons beplan reeds om heelwat meer te laat druk as die aanvanklike oplaag wat ons beplan het.
Die bekendstelling van die bundel sal deur die KKNK behartig word en inligting daaroor sal later bekend gemaak word. Intussen is Turksvy publikasies en die KKNK besig met die beplanning van nog 'n bundel later vanjaar wat slegs ongepubliseerde digters gaan betrek.
Hannes Visser (links) en Daniel Hugo, redakteurs van 'Maskers en mure', tydens 'n opname vir die televisiereeks, Ek wou nog sê, wat op VIA uitgesaai is. Foto: Brand etal
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'