TUINROETE | KAROO NUUS - Oudtshoorn trek in 2023 sy feesklere vir nege dae aan wanneer die 27ste KKNK, geborg deur Absa, van Saterdag 1 tot Sondag 9 April aangebied word. Dié feesdatums val volledig in die skoolvakansie en eindig oor Paasnaweek.
Die feesprogram word op Vrydag 20 Januarie 2023 bekendgestel, met kaartjieverkope wat daarna landswyd en aanlyn by Webtickets open. Verblyfbesprekings kan reeds aanlyn op die KKNK se webblad gedoen word.
Vriende van die KKNK ontvang die volledige feesprogram reeds voordat dit bekendgestel is en het ook 'n kans om eerste hulle kaartjies, teen afslagpryse, te koop. Om aan te sluit, besoek die KKNK se webblad.
"'n Propvol feesprogram, wat al die gewilde KKNK-elemente insluit, wag op feesgangers. Die gewilde opelugaandkonserte en plekspesifieke toneelstukke keer terug.
Die multidissiplinêre program gaan feesgangers vermaak in alle genres en is gemik op oud en jonk. Baron van Reedestraat, die hartklop van die fees, word in 2023 weer gesluit.
Dié feestelike straat bied aan feesgangers gratis vermaak met impromptu optredes, musiek en heerlike kos en drinkgoed, van vroegaand tot laatnag. En natuurlik is die gewilde gesprekreekse, visuele kuns en ander leefstyl-elemente ook deel van die aanbod.
'n Verdere bykomende element is 'n twee-dag opelugmusiekfees waarmee die fees op 1 en 2 April begin. 'n Inkopieparadys is in die Feesmark geleë en bied kuns- en kosstalletjies om van te kies en keur, met 'n musiekverhoog wat vermaak verseker."
Só sê Hugo Theart, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die KKNK.
As deel van die KKNK word daar vir die eerste keer vanaf 1 tot 4 April, in samewerking met die Wes-Kaapse departement van onderwys, 'n Jeug-kunstefees spesifiek op hoërskool-leerders en -onderwysers gemik, aangebied.
Dié fees binne die fees, is gefokus om 'n liefde en belangstelling vir die kunste by hoërskoolleerders te kweek deur 'n program van teater, musiek, dans, visuele kuns, aktuele gesprekke en meer.
Sommige produksies en geleenthede word deur die jeug self aangebied, om aan hulle 'n stem en platform te bied. Pakkette met verblyf en kaartjies teen bekostigbare pryse word beskikbaar gestel, wat ook meesterklasse en werksessies insluit.
Vir meer inligting, besoek die KKNK se webblad by www.kknk.co.za of stuur 'n e-pos na info@kknk.co.za.
'Ons bring jou die nuuste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'