GEORGE NUUS - Die skreeusnaakse komedie, Laerskool Noord is weer op 6 April om 19:00 by die George-kunsteteater te sien. Die komedie spog met vier groot name: Marion Holm, Margit Meyer-Rödenbeck, Ilne Fourie en Neels Coetzee.
Daar is etlike ondeunde taaloomblikke in die verhoogstuk, so geen kinders onder 13 word toegelaat nie.
Spesiale aanbod: Kaartjies kos R200, maar vir groepe van 10 en meer is dit R175 per persoon. Bespreek by Computicket.
Laaste kans
Na meer as 80 vertonings en amper twee jaar op die pad is dit die stuk se heel laaste toer.
Frank Opperman sê: “Vier uitstekende akteurs op die verhoog. Dit is groot pret."
Anna Davel sê: “Ek was lus om te lag en te vergeet van alles wat mal is om my. Dit is presies wat Laerskool Noord vir my was. ‘n Wegkomkans, oftewel ‘n kort vakansie, waar ek soos ‘n kind kon lag uit my maag sonder inhibisies. Jy sal elke karakter herken of dalk ietsie van jouself in elkeen herken. Die dinge wat ons almal so menslik en uniek maak. Gaan kyk dit net. Dit sal jou hart en siel goed doen.”
Storielyn
Laerskool noord se leuse is kyk noord en stoot voort, maar in hierdie lekkerlag-produksie is dit alles behalwe die geval. Drie onderwyseresse beplan ‘n verrassingsafskeidspartytjie vir hul skoolhoof se aftrede.
Tussendeur die netbaljuffrou, Zelda de Wet se vreeslose fluitjie, Bets du Preez se dramatiese deurmekaar administrasie en kaftans en sorglose Marietjie wat probeer om die wit vlaggie van vrede te laat wapper met haar glitter stickertjies en sticky notes, is hierdie ‘n 'personeelkamer tikkende tydbom'.
Nou wag ons net vir Meneer van der Wat om aan te kondig wie is die nuwe hoof van Laerskool Noord. Laerskool Noord is ‘n komiese kykie na wat werklik agter die swartbord gebeur.
Ilne Fourie as teksskrywer, bekend vir haar RSG-radiodramas, kleur met haar tong-in-die-kies en pittige waarnemingsvermoë hierdie karakters in dat jy sonder twyfel een van jou oud-onderwyseresse sal herken.
Gideon Lombard, bekroonde akteur en regisseur, hou almal se varkies, en in Meneer se geval, poedels op hok.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’