Die gaste kan kom aansit vir 'n heerlike spyskaart wat in elkeen se smaak sal pas.
Verwaarloosde en mishandelde vrouens en kinders gaan baat by die fees. Indien daar mense is wat graag ou klere, komberse en blikkies kos wil skenk, is hulle baie welkom om dit by die toegangshek af te gee. Dit is iets wat hoogty vier in ons land en dit is oor alle taal en kleurgrense.
Die fees word vanjaar vir die eerste keer aangebied en die organiseerders beoog om dit 'n jaarlikse instelling te maak. Uitgesoekte handelaars, tuisskeppers en kosstalletjies sal alleen 'n besoek aan die fees die moeite werd maak. Daar sal genoeg te ete en te drinke wees en die vroue kan bederf word deur die naweek weg te bly van die kospotte. Die biertuin sal die nodige hê vir wie se dors ernstig kan word.
Die vermaak gaan uit die boonste rakke wees, want vanaand (Vrydag) tree Amore, wat in 2012 Radio Tygerberg se sangeres van die jaar was, op saam met Anton Myburgh, wat al die afgelope 15 jaar 'n sanger en liedjieskrywer is, en Michael Visser, die broer van Wyle Worsie Visser. Die plaaslike talent sal ook geleentheid kry om saam met die professionele sangers op te tree.
Die hekke open Vrydag om 14:00.
Kunstenaars wat gaan optree sluit in Chelsea Whales, Gevante Fisher, Mordigai Erasmus, Michelle de Jager, Nickey Stears, Bongisa Komasi en Chris Waltlin. Hierdie kunstenaars se optrede word deur die Mosselbaai Munisipaliteit geborg.
Saterdagoggend kan die toeskouers maar vroeg kom, want die hekke open om 08:00. Daar gaan 'n baie vol program wees. Kom dwaal tussen die nuwe en veteraan motor uitstallings. Toyota, Nissan, GM, Ford en Volkswagen gaan van hul nuutste voertuie hier uitstal.
Daar is ook baie ander verrassings. Boeresport sluit in hoenderskop, skilpadtrek, bandslinger, gumboot gooi, klipstoot, pen lê en toilet gooi.
Daar gaan baie stalletjies wees waar demonstrasies gelewer gaan word en u moet gerus gaan kyk hoe die tegnologie verander het. Die Mond en Voetskilders gaan skilder terwyl u hul vaardighede kan bewonder. Daar sal ook ander skilders en skilderye wees. Demonstrasies sluit in seep maak, mampoer stook, taxidermis, maak van leerhandsakke, pluk en verwerking van gansvere, maak van botter, swepe vleg, stoffeerwerk, borduur en laslapwerk, uitleg van familie stamboom, verwerking van heuning, bou van treine, volkspele en dan sal Fred Mouton van Die Burger se spotprente op uitstalling wees.
Daar gaan ook 'n uitstalling van die Was-museum op Hartenbos se oudhede wees.
Die beoordeling van die pannekoek en koffie kompetisie vind plaas tussen 09:00 en 12:00. Gedurende die tydperk sal die produkte teen 'n spesiale prys aangebied word, sodat die publiek ook 'n inset kan lewer. Die deelnemers kan pryse wen. Hierdie twee kompetisies word deur Shoprite/Checkers Heiderand geborg wat ook sorg vir 'n hele paar aantreklike pryse.
Daar is 50 stalletjies met die heerlikste kossoorte en pragtigste handwork deur tuisskeppers.
Die aand is dit lekker kuier vermaak met musiek vir die oor en stories vir die lagspiere. Ontmoet die liedjieskrywer Stef Kruger en ander bekendes.
Die toegang is R50 per volwassene en R10 per kind. Indien u ou klere of blikkieskos wil skenk vir verwaarloosdes, moet u dit by die toegangshek laat. Daar is voorsiening gemaak vir veilige parkering en u hoef nie bekommerd te wees oor u voertuig nie.
Moenie die hoogtepunt op vanjaar se kalender misloop nie. Die fees se oogmerk verdien ons almal se ondersteuning.

Een van die veteraan motors wat by die Hartlamfees te siene sal wees.
ARTIKEL: MAURITZ MEYER
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete | Klein-Karoo nuus'