OUDTSHOORN NUUS - Klein Karoo Klassique bied vanjaar saam met uitstaande klassieke musiek ook hope gratis vermaak vir diegene wat die fees wil beleef.
Oudtshoorn se winterfees van klassieke musiek, literatuur, kuns, kos en wyn word van Vrydag 7 tot Sondag 9 Augustus vir die 17de keer aangebied.
Twee gratis Ontbytkonserte word as deel van die musiekprogram aangebied.
Op Saterdag 8 Augustus 08:00 is Oudtshoorn-pianis John Theodore op die verhoog in die Banketsaal, met Steinway-kunstenaar Charl du Plessis wat op Sondag 9 Augustus 08:00 agter die klavier inskuif.
Feesgangers kan uitsien na pragtige klaviermusiek en ’n heerlike ontbyt geniet, voorberei deur Oudtshoorn se Nostalgie Restaurant.
Musiekgesprekke
Du Plessis bied na uitgesoekte musiekuitvoerings gratis musiekgesprekke met kunstenaars aan. Hierdie insiggewende gesprekke fokus op die musiek, kunstenaars, hul inspirasie en lewe op die verhoog.
Musiekgesprekke word aangebied na afloop van Postcards (7 Augustus 15:15), Trio Contraire (8 Augustus 11:15), Take Four Piano Quartet (8 Augustus 15:30), Unheard (of) [9 Augustus 11:15] en Cellissimo (9 Augustus 15:30).
Literêre gesprekke
Drie gratis literêre gesprekke word aangebied, moontlik gemaak deur Human & Rousseau en Kwela. Hier kan feesgangers die storie agter die publikasies hoor, vir ’n dieper begrip oor die skrywers se jongste werke en kreatiewe prosesse.
Op Vrydag 7 Augustus 16:00 gesels Bonnie Espie oor Lifting the Lid. Saterdag 8 Augustus 12:00 tree die bekroonde digter Antjie Krog in gesprek oor Van man tot man, haar vertaling van Olive Schreiner se From Man to Man, wat beskou word as Schreiner se beste roman.
Dit is die eerste keer dat Krog oor hierdie boek gesels. Sondag 9 Augustus 12:00 gesels topverkoperskrywer Irna van Zyl oor Kanniedood, haar blitslekker krimi.
René Scribante is die kurator van die fees se visuele kunsuitstalling, wat daagliks gratis in die Banketsaal en Ou Raadsaal besoek kan word. Die tema, In die toonsoort van lig, is ’n uitdrukking van die verhouding tussen kleur, klassieke musiek, komposisie en emosie.
Geïnspireer deur die stilte van die saligheid van die Klein Karoo wat ontwaak met Klein Karoo Klassique, nooi kunswerke deur plaaslike kunstenaars uit die Klein Karoo en Tuinroete die kyker uit om te vra: “Watter musiek hoor jy as jy na die kunswerk kyk?” Scribante bied op Sondag 9 Augustus 13:00 ’n rondleiding van die visuele kuns in die Banketsaal aan.
Word deel van die ReWOLusie op Oudtshoorn
Oudtshoorn ReWOLusie, ’n projek wat ’n groot impak in die gemeenskap van Oudtshoorn maak, brei en hekel vanjaar verskillende verrassings wat deur die feesaanbod verweef word.
Feesgangers kan saam met die span brei en hekel aan blokkies wat na afloop van die fees vir komberse, wat aan minderbevoorregte gemeenskappe geskenk word, brei.
Komberse wat reeds deur dié projek gemaak is, is beskikbaar om feesgangers tydens die uitvoerings in die Burgersentrum warm te hou, of teen ’n donasie of skenking van wol huis toe geneem kan word.
Genot vir die jongspan
Ander opwinding op die program, spesiaal vir jong gehore en koorleiers, sluit Inleiding tot die orkes en ’n werksessie vir koorleiers in.
Met die ondersteuning van die ATKV en Wes-Kaapse Onderwysdepartement, bied Inleiding tot die orkes ’n betowerende, interaktiewe konsertervaring vir skoolgroepe van graad 4 tot 9.
Dié leerskool, ontwerp vir nuuskierige geeste, nooi die gehoor op ’n musikale reis deur die orkes se verskillende groepe, waar elke instrumentfamilie se eie karakter en stem wat dit tot die geheel bydra, ontdek word, onder leiding van maestro Richard Cock.
Toegang is beperk tot skoolgroepe uit die streek en belangstellendes kan die feeskantoor kontak vir meer inligting en besprekings.
Bekroonde koorleier, André van der Merwe, bied Maandag 10 Augustus 08:30 ’n werksessie vir koorleiers aan, met die ondersteuning van die ATKV. Koorleiers uit die Klein Karoo en Tuinroete word genooi na hierdie inspirerende werksessie met een van Suid-Afrika se voorste koorleiers.
Die sessie is gratis en word ná afloop van Klein Karoo Klassique aangebied. Dit is ’n unieke geleentheid om nuwe idees, praktiese vaardighede en vars inspirasie vir jou koor te ontdek.
Spasie is beperk en belangstellendes kan die feeskantoor kontak vir meer inligting en besprekings.
John Theodore is onder andere as deel van Klein Karoo Klassique se gratis aanbod op die verhoog te sien.
Klassieke musiekuitvoerings is deel van die program
Verder tot hierdie gratis aanbod, sluit feesprogram agt klassieke musiekuitvoerings in die Oudtshoorn Burgersentrum, twee laataand musiekkonserte in die Banketsaal, wynproeë en verskillende Klein Karoo-ervarings in.
Kaartjies is aanlyn beskikbaar by klassique.co.za, by die KKNK-kantoor of by die deur voor vertonings, afhangend van beskikbaarheid.
Klein Karoo Klassique word aangebied deur die KKNK, moontlik gemaak deur die Rupert-Musiekstigting en die ATKV, met ondersteuning van Le Lude, RSG, Oudtshoorn Courant en die Oudtshoorn Munisipaliteit.
Dié winterfees se verblyfborge is Argyll B&B, Beit Shalom, Cul de Sac, De Zeekoe, El Dorado Hotel & Self Catering, Kleinplaas Holiday Resort, Miles B&B Guesthouse, Oudtshoorn Inn, Pictures Boutique Hotel, Protea Hotel Riempie Estate, Queen’s Hotel, Ravenscliff Manor, Rosenhof Country House en Thylitshia Villa.
Vir meer inligting, die volledige feesprogram en kaartjies, besoek klassique.co.za of kontak die KKNK-kantoor per e-pos by [email protected], skakel 044 203 8600 of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.
Antjie Krog is onder andere as deel van Klein Karoo Klassique se gratis aanbod op die verhoog te sien.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’