Die majestieuse olifant wat net uit dryfhout en skroewe geskep is en sonder enige stutmiddel staan, het De Kock sowat ses maande geneem om te finaliseer. De Kock het ook 'n uitmuntende beeld van 'n renoster geskep en dit het hom sowat drie maande geneem.
In die afgelope drie jaar, sedert hy matrikuleer het, het De Kock nog geen inkomste verdien uit sy werk nie, maar hy bly nietemin vasberade om sy passie vir sy kuns uit te leef.
De Kock se pa, ook Danie de Kock, beskryf sy seun as 'n voorbeeldige jongman wie se hart by hierdie tipe kuns lê. Hy noem dat De Kock van kindsbeen af 'n eienaardige beheptheid gehad om beelde te visualiseer en dit dan fisies te skep op enige manier moontlik.
"Ons het egter nooit opgelet dat Danie so 'n merkwaardige kunstalent het nie. Ek het ook nooit gedink ek sou 'n kind hê wat so iets doen nie. En ek dink, of altans weet, dat hy baie goeie werk gedoen het met die twee beelde wat hy geskep het. Dit vat baie tyd en vasberadenheid. En Danie bewys keer op keer dat dié sy passie is en niks anders nie," vertel Danie Sr.
Hy vertel verder, "Danie het nog nie regtig 'n inkomste verdien vir die werk, maar dit inspireer hom om steeds voort te gaan. Ek onthou ek het vir hom gesê dat hy moet kyk om te gaan studeer en Danie het onlangs 'n beurs ontvang, maar hy het vir my gesê dat alhoewel dit 'n wonderlike geleentheid is, verkies hy liewer om sy passie uit te voer want dit is 'n talent wat hy self bemeester het en van harte ken."
"Ek het vir hom gesê dat hy moet doen wat hy voel is reg vir hom. Ek kan hom nie en sal hom ook nie dwing om iets te doen wat hy nie wil nie. God het hom geseën met hierdie talent en ek sal wil hê dat hy dit ten volle moet beleef," vertel De Kock se trotse pa.
Volgens Danie Sr, het De Kock begin deur spieëlrame en ander voorwerpe te maak, maar onlangs het hy sy pa meegedeel dat dit tyd is om iets spesiaals te skep. "Dis waar die skepping van die renoster en enorme olifant gekom het," vertel Danie Sr.
Danie Sr. het verder gesê dat sy seun se droom is om die hele Groot Vyf te skep. Sy trotse gesin hoop nou dat De Kock se beelde nie net die erkenning kry wat dit verdien nie, maar dat die pragstukke verkoop word sodat hy beloon kan word vir sy vasberadenheid om sy inspirasie lyf te gee.
Sy pa vertel verder, "Danie neem gewoonlik 'n paar seuns saam hom op 'n Vrydagmiddag na die Grootbankstrand toe. Omdat ek nie 'n bakkie het nie, huur Danie gewoonlik iemand om hulle te gaan haal. Hulle bly gewoonlik in 'n grot wat by die strand geleë is. Hulle sal die hele naweek daar deurbring om die getye dop te hou sodat hulle die dryfhout kan versamel. Op 'n Sondagmiddag keer hulle terug met sowat vyf sakke vol dryfhoutstukke. Danie is ook baie uitsoekerig wanneer dit kom by die kies van die dryfhoutstukkies; hy vat nie sommer net enige hout nie."
"Vandat Danie erkenning gekry het vanaf die gemeenskap en verskeie individue en die Goodman Galery, sien ek hom groei in sy persoonlikheid en menswees. Ek sien hy is besonders goed en het selfvertroue en verantwoordelikheidsin verkry. Hy is maar, of was, 'n baie skaam seun, en voorbeeldig ook. Ek het vir hom gesê dat al gaan dit hoe swaar, moet hy nooit moed verloor nie. Ek glo en sien dat my kind 'n sukses gaan maak in hierdie bedryf met sy unieke kuns," verduidelik Danie Sr.
Hy het verder vertel dat hy nie self die hulpbronne het om sy seun 'n hupstoot te gee nie, maar dat hy nou glo dat sy seun op die regte plek is in sy loopbaan. "Ek ken nie baie van kuns nie of van die kunswêreld nie. Ek het gevoel dat Danie nie op Wittedrift die regte erkenning en blootstelling sal kry vir sy werk nie. Maar vandat hy die geleentheid ontvang het om sy kuns uit te stal by die Goodman Galery, blyk dit dat Danie dit gaan maak in hierdie bedryf. Ek glo hy is nou op die regte plek," vertel hy.
Volgens Danie Sr. kan die Olifantbeeld sowat R300 000 werd terwyl die renoster sowat R180 000 werd is. "Dit kan dalk meer wees."
De Kock was tydens die onderhoud nie by sy ouerhuis op Wittedrift nie, maar in Johannesburg ter voorbereiding van die uitstallings in Johannesburg en Kaapstad. Die uitstalling duur sowat twee weke.
Sy pa vertel verder dat dit sowat vyf ure geneem het om die magtige olifant van die agterplaas tot die voortuin te skuif. 'n Vervoermaatskappy het die kunswerke op Woensdag, 26 September daar opgelaai vir die tog na die Goodman Galery in Johannesburg.
"Ons is besonder trots op Danie en wens hom alle voorspoed met wat hy doen.
Ons hoop dat hy erkenning ontvang vir sy passievolle werk. Ek moet byvoeg dat dit nie moontlik sou wees vir ons om op ons eie sy beelde te laat vervoer Johannesburg toe nie, en is baie dankbaar vir die maatskappy wat die vervoer geborg het. Enige finansiële hulp om Danie se vervoer- en verblyfkoste tydens sy toer kan help dek, sal hartlik waardeer word," het Danie Sr. ten slotte gesê.

Danie de Kock se trotse ouers en suster by sy dryfhoutpragstukke. Van links is sy ma, Vanessa, sy pa, Danie en sy suster, Varuschka de Kock.
ARTIKEL: ROZANO ALIE, KNYSNA-PLETT HERALD-JOERNALIS