Die wenner van die Fiësta vir die beste teaterontwerp, Jaco Bouwer, is die regisseur van die debuut drama Buite blaf die honde swart met o.a. Dawid Minnaar en Albert Pretorius, asook Na-aap, ’n eenmanstuk met De Klerk Oelofse. Pretorius is die wenner van die Fiësta vir beste akteur vir sy spel in Die seemeeu, wat by die Absa KKNK te sien is, asook Playland.
Die seemeeu spog met nog vier Fiësta-wenners: Marius Weyers wat vereer is vir lewensbydrae vir teater, Rolanda Marais wat die toekenning as die beste aktrise ontvang het (Dogma en Die seemeeu) en Christiaan Olwagen, die wenner van die Fiësta vir die beste nuwe Afrikaanse opvoering (Dogma) wat die regie van Die seemeeu behartig.
’n Verbaasde Weyers het in sy bedankingstoespraak gesê, “Ek wil begin met die woorde van Hans du Plessis. ‘Mag die Here jou binneste roer, mag soveel goedheid jou slat dat jy loop en skaam kry oor al die genade.’ Vanaand kry ek skaam oor al die genade. Skaam, skaam, skaam, maar so lekker.”
Die aanbieder vir die aand, Frank Opperman, het die Fiësta vir die beste solo-vertoning ontvang vir Die klaagliedere van ds. Tienie Benade waarvan daar vyf opvoerings by die Absa KKNK is.
Richard September, wenner van die Fiësta vir beste opkomende kunstenaar vir sy spel in Rondomskrik, is in April op Oudtshoorn te sien in Nat. Soos Rondomskrik, lewer Nat ook sosiale kommentaar op die lewe van ’n groep jongmense in ’n arm, agtergeblewe gemeenskap.
Lee-Ann van Rooi is bekroon met die Fiësta vir beste vroulike byspeler vir haar rol in Rondomskrik en is van 4 tot 6 April by die Absa KKNK te sien in André P. Brink se Bidsprinkaan.
Die oud-onderwyser, skrywer, digter, vertaler, blogskrywer, fotograaf, operasanger Philip de Vos, is die ontvanger van die Fiësta vir lewensbydrae vir musiek, woord en visuele kuns. De Vos is op 4 en 6 April te sien in Karnaval van die diere.
