KNYSNA NUUS - Die Titans-rugbyakademie se flank, Neidene Solomons, is onlangs ingesluit in die Springbok High Performance Hunters Camp wat verlede Saterdag ten einde geloop het.
Die program, wat intensiewe oefenkampe en ontwikkeling aan belowende opkomende vrouespelers bied, het tussen 26 April en 9 Mei plaasgevind.
Solomons, wat as nommer ses blindekant-losvoorspeler na die kamp genooi is, sê haar insluiting het 'n groot emosionele impak op haar. "Ek is emosioneel omdat ek besef dat my harde werk nou vrugte afwerp. Dit voel lekker om my familie en vriende te kan sê dat ek op nasionale vlak darem raakgesien word. Dit maak al die laatnagoefening, sweet en opoffering die moeite werd."
Die Titans-akademie
Solomons is al vir byna agt jaar by die Titans-rugbyakademie, 'n pad wat haar van 'n jong leerder van die spel tot 'n senior rugbyspeler gevorm het.
"Die eerste drie jaar was net leer om rugby regtig te verstaan. Iemand wat 'n groot invloed op my ontwikkeling gehad het was definitief afrigter Ashcin Klein. By hom het ek baie oor die fynere tegniese kunsies van die spel geleer," verduidelik sy.
Van krieketveld tot rugbyontwikkeling
Voordat rugby haar fokus geword het, het Solomons ook op die krieketveld uitgeblink, waar sy die Garden Route Badgers (SWD) asook die SWD se o. 18-span in gr. 11 verteenwoordig het. Daarna het haar rugbyloopbaan vinnig momentum gekry; van o. 20-rugby tot senior vlak, en later eerste divisie- na premierligarugby.
Die oorgang na hoër vlakke was nie altyd maklik nie. "Die intensiteit was aanvanklik moeilik, maar met tyd leer jy om aan te pas en meer buigsaam te wees," sê sy.
Sterkpunte, inspirasie en toekomsdoelwitte
Solomons sê haar sterkpunte lê in haar fisieke spel en verdedigende werk.
"Ek dra die bal sterk in kontak, my duikslae is goed en ek werk hard by afbreekpunte om balle te steel nes my held, Springbok-flank Schalk Burger, destyds gedoen het. Op die oomblik fokus ek daarop om my fiksheid verder te verbeter. Dis die aspek waaraan ek werk sodat ek wedstrydfiks kan wees wanneer die kans kom. My doel vorentoe is om die standaard hoog te stel en elke jaar beter as die vorige een te wees. Dit is my leuse," sê Solomons.
Vir haar bly die boodskap eenvoudig: sukses kom met dissipline, toewyding en geloof. "Alles is moontlik as jy jou gedagtes daarop plaas en bereid is om die ekstra myl te loop."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’