RUGBYNUUS - Barbarians se onderskeie rugbyspanne het die afgelope Saterdag op Outeniquapark kragte gemeet met die spanne van George RVK.
Met slegs 'n minuut se speeltyd oor, het 'n oorwinning van 19-13 vir Barbarians se eerstespan gewink.
'n Onbestrede beslissing deur die skeidsregter het egter 'n stokkie daarvoor gesteek en Babaas verloor die wedstryd met 19-20.
Op die dag se spel was Barbarians, onder leiding van kaptein Bradley Samaro (haker), die beste span op die veld. Hul agttal moet krediet kry vir goeie teenstand teen George se swaarder agttal wat in die skrums en lynstane, met hul vaste vyf aan die spits, een te veel was vir die tuisspan.
Ten spyte van nat toestande, het Babaas by tye aanskoulike rugby gespeel. Agterlangs het hulle George benoude oomblike besorg met aanvallende spel.
Macdelin Saayman wat twee skepskoppe deur die pale gestuur het, se taktiese skoppies het George deurentyd onder druk geplaas. In die middelveld was Kervin Taute (binne senter), wat een van sy beter wedstryde gespeel het, saam met Sario Roosenkrantz goed op die aanval en verdediging.
Punte: Vir Barbarians het Curshwon Mono en Kervin Taute elk 'n drie gedruk, terwyl Macdelin Saayman met twee strafskoppe en een doelskop geslaag het.
Ander uitslae
- Tweedes: Barbarians 45 - George 15
- Derdes: Barbarians 57 - George 8
Groot Brak
Barbarians se volgende wedstryd is môre, Saterdag 13 Augustus, teen Groot Brak, op D'Almeida Park, Mosselbaai.
Hierdie wedstryd lok reeds groot belangstelling, want die besoekers wat vierde op die punteleer is, mik ook na 'n plek in die semi-finaal. Barbarians, wat laaste vasgeval het teen Groot Brak in hul House of pain, sal definitief die bordjies wil verhang.
'Ons bring jou die nuutste Groot Brak, Tuinroete nuus'