PLETTENBERGBAAI NUUS - Die SWD Arende se opwarmwedstryd teen die OP Kings Donderdagmiddag in Plettenbergbaai - hul derde volwaardige oefenwedstryd vanjaar - gee hulle 'n laaste kans om aan hul spel te skaaf voor die Curriebeker se Eersteliga-wedstryde op 28 April afskop.
In hul eerste oefenwedstryd in Januarie het die Westelike Provinsie talle gebreke in hul spel ontbloot en het hul gebrek aan wedstrydfiksheid en -skerpheid soos 'n fyt vinger uitgestaan.
Dis deeglik aangespreek en die resultate is twee weke onweerlegbaar bewys toe die Arende die gedugte Griekwas op Mosselbaai in hul tweede oefenwedstryd met 12-10 na die kroon gesteek het.
Niemand het in hul wildste drome verwag die tuisspan sou 'n span klop wat in die Curriebeker se Premierliga deelneem en ook vanjaar franchise status bekom het nie. Nou ja, Dawid het al vantevore vir Goliat 'n punt bewys.
Boonop het die Griekwas met 'n vol sterkte span opgedaag wat 'n paar spelers ingesluit het wat al hul merk in die Superrugby-reeks gemaak het. Net 'n week vantevore het die Griekwas die WP afgestof en kan mens hulle as alles behalwe 'n hierjy-span beskou.
Maar wat die Arende wel bewys het, is dat hul spel 'n opwaartse kurwe toon en dit voorspel net goed vir die seisoen wat voorlê. Natuurlik sal nog 'n puik vertoning teen die OP Kings Donderdag dié siening versterk.
Rynhard van As, hoofafrigter van die Arende, het aan die George Herald gesê die oorwinning oor die Griekwas was kosbaar en sal die spelers se selfvertroue 'n stewige hupstoot gee.
"Wat my groot rede tot optimisme gee, is dat ons verdediging, veral in die tweede helfte toe die Griekwas verwoed aangeval het, gehou het. Hulle kon in dié tyd slegs 10 punte aanteken.
"Ons fiksheid het baie verbeter en ons eerstefase-besit was uitstekend. Wat ook bemoedigend was, is dat elke speler wat speelkans gekry het, meer as hul kant gebring het. Hy wou niemand egter uitsonder nie."
Vir die Arende het Janneman Stander (flank) en die vleuel Marlo Weich drieë gedruk en Leighton Eksteen was met 'n doelskop suksesvol. Die Arende was met rustyd met 7-0 voor.
Cornell Hess (slot) is aangewys as die speler van die wedstryd.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'