SUID-KAAP NUUS - Die Protea-rolbalspeler Elma Davis en Georgou Divaris (seiljag) is Donderdagaand tydens die Eden-sportraad se jaarlikse sporttoekenningsgeleentheid as onderskeidelik die sportvrou en sportman van die jaar aangewys.
Altesame 31 wenners is uit die 160 nominasies aangewys. Talle van die genomineerdes het op internasionale vlak gepresteer.
Die geleentheidspreker, prof. Willie van der Westhuizen, 'n oud-Springboknaelloper, het die opkomende sportmannne en -vroue aangemoedig om nie net te fokus op hul huidige sportsoort as 'n loopbaan nie, maar terselfdertyd ook te fokus en te beplan vir 'n alternatiewe loopbaan sodat die verskynsel van "arm en behoeftige" sportpersone hulle nie op hul oudag tref nie.
Die Eden-fietsryfederasie, onder die voorsitterskap van Corné Bence, is aangewys as die beste in Eden.
Die Presidentstoekenning het vanjaar aan die ou strydros van sport in Eden, Denzil Geldenhuys van Hessequa, gegaan.
Dié aand is moontlik gemaak deur vennote soos die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport, die Hessequa-munisipaliteit en die Eden-distriksmunisipaliteit in samewerking met die Eden-sportraad. Group Editors, Leading Edge en Oudtshoorn Ford was die sekondêre borge. Die wenners van sommige van die Eden-kategorië kwalifiseer outomaties vir die Wes-Kaapse sporttoekennings wat op
16 September aangebied word.
Van die ander wenners is: Sonja Botha (administrateur van die jaar), Lilian Steyn (beste afrigter; judo), Johann van Tonder (beste nuweling; Eden-skerm), Christo Lamprecht (hoërskole sportman), Susan Agrella (beste gestremde sportvrou), Aimee Canny (junior sportvrou), Toy Ungerer (meester-sportvrou) en Johan Windt (meester-sportman).
Lillian Steyn (Eden-judo) is aangewys as afrigter van die jaar.
Die Protea-rolbalspeler Elma Davis is tydens die Eden Sportraad se jaarlikse sporttoekennings as sportvrou van die jaar aangewys.
Susan Agrella (skerm) is as Eden se gestremde sportvrou van die jaar-titel aangewys.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein Karoo, Hessequa nuus'