TUINROETE NUUS - Dis 'n goeie jaar vir Suid-Afrikaanse sport, en atlete uit die toutrekgeledere het dit die afgelope naweek sommer nóg beter gemaak.
Suid-Afrika het 'n skitterende agt medaljes by die afgelope naweek se Toutrekwêreldkampioenskappe in Hartenbos ingepalm: vier daarvan goud, twee silwer en twee brons. Chinese Taipei het hierdie prestasie geëwenaar, wat dié twee lande saam in die topposisie vir medaljes geplaas het.
Die Tuinroete en Karoo het ook geen tekort aan toutrektalent nie, met verteenwoordigers van Plettenbergbaai, Ruiterbos, Riversdal, Swellendam, Hartenbos, George, Ladismith en Oudtshoorn wat die streek verteenwoordig het. Só lyk Suid-Afrika se medalje-oes:
Goud
• Junior mans 560 kg (Duitsland tweede)
• o. 23-gemeng 560 kg (Engeland tweede)
• Senior mans 600 kg (Switserland tweede)
• o. 23-mans 600kg (Chinese Taipei tweede)
Silwer
• Junior vroue 480 kg (Chinese Taipei eerste)
• Senior gemeng 580 kg (België eerste)
Brons
• o. 23-vroue 500 kg (Engeland vierde)
• Senior mans 680 kg (Duitsland vierde)
Verder het die senior vroue 500 kg en die junior gemengde span 520 kg vierde in hul kategorieë geëindig.
Die mediabeampte vir SA Toutrek, Kittie Terblanche, sê hulle is baie tevrede en ongelooflik trots op wat die atlete vermag het. "Om agt medaljes in die wêreldkampioenskap te verower is 'n besondere prestasie vir ons. Wat dit nog belangriker maak, is dat die medaljes oor verskillende ouderdomsgroepe en gewigskategorieë gekom het. Dit bewys dat SA Toutrek nie net op een vlak sterk is nie, maar dat ons 'n goeie basis van junior, o. 23- en senior atlete het.
"Ons is trots op die medaljes, maar ons kyk ook vorentoe. Hierdie sukses moet ons as atlete motiveer om nóg meer jongmense by toutrek te betrek, ons strukture verder te ontwikkel en Suid-Afrika se posisie op die internasionale verhoog verder uit te bou."
Dis strategies
Piet Lourens, toutrek se nasionale koördineerder en ook die afrigter vir die 500 kg-vroue, 680 kg-mans en o. 23-mans, sê hy is net so trots. "Jis, die mense het regtig baie hard gewerk vanjaar. Dit is die beste resultate wat Suid-Afrika nog ooit gehad het."
Hy het ook uitgebrei oor die sterkste spanne in die wêreld en hoe SA hulle benader het. "Die sterkste kompetisie by die vroue is gewoonlik Chinese Taipei - hulle is altyd nommer een - dan is dit maar jou tradisionele lande, Duitsland, Switserland, Engeland, Swede en ook Baskeland. By die mans is dit Switserland, Nederland, Duitsland en Chinese Taipei.
"Teen Switserland en Baskeland sal ons byvoorbeeld 'n aanvallende styl hê; teen Chinese Taipei sal jy dit 'n langer trek probeer maak. Jy gaan nie net op en gaan trek teen 'n span nie, jy is spesifiek voorberei." En gedurende die kampioenskappe sal jy ook op die uitkyk wees vir swakpunte in spanne, sê hy.
Goeie terugvoer
Net soos sy atlete, is Suid-Afrika se organiseerders ook van wêreldklasgehalte. Die president van SA Toutrek, Anton Botha, sê die terugvoer wat hulle van die deelnemende lande ontvang het was oorweldigend positief. "Wat vir ons besonder belangrik was, is dat die buitelandse deelnemers nie net na die sportkompetisie verwys het nie, maar ook na die ongelooflike organisasie, die hartlikheid van die Suid-Afrikaanse mense en die atmosfeer waarin die kampioenskappe aangebied is.
Baie van die deelnemers het aangedui dat hulle nog nooit tevore so 'n ervaring by 'n wêreldkampioenskap gehad het nie. Die kombinasie van die Mosselbaai- en Hartenbos-omgewing, die uitstekende fasiliteite, die verwelkoming van die lande en die toegewyde werk van ons vrywilligers het 'n besondere indruk gemaak.
"Vir ons as Suid-Afrikaners is dit 'n groot bron van trots. Ons wou nie bloot 'n wêreldkampioenskap aanbied nie - ons wou aan elke deelnemer 'n ervaring bied wat hulle nog lank sal onthou. Die terugvoer dui daarop dat ons daarin geslaag het."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’