Op Woensdag, 6 Augustus het Hoërskool Uniondale se o/19-rugby- en o/18-netbalspanne die bergpas aangedurf. Wittedrift het die rugby 20-17 gewen terwyl Uniondale die netbal 22-14 gewen het.
Op Saterdag, 9 Augustus het die jaarlikse kragmeting met hoërskool De Villiers Graaff van Villiersdorp plaasgevind. Geluk aan die tuisspan se o/15 en o/18-netbalspanne wat onderskeidelik met 22-2 en 25-4 geseëvier het. Die rugbymanne het ook nie op hulle laat wag nie. Die o/19-manne het 25-5 gewen terwyl die o/16-span 17-10 verloor het.
Op Vrydag, 15 Augustus, vertrek ‘n groep van nagenoeg 100 rugby-, hokkie- en netbalspelers na Hoërskool Templeton in Bedford vir wedstryde op Saterdag, 16 Augustus. Die o/15A-netbalspelers vertrek dieselfde naweek vir ‘n groot toernooi wat by die Universiteit van Stellenbosch aangebied word.
“Dit is vir ons belangrik dat leerders geleenthede kry om hul talente op die sportveld uit te leef en daarom doen sportorganiseerders moeite om wedstryde met buurskole en selfs verder, te reël. Ons sien ook hierdie week uit na die besoek van drie o/14-netbalspanne en een o/16 rugbyspan van Ludlow, Shropshire, Engeland wat teen ons spanne sal speel. Wat 'n wonderlike geleentheid vir ons skool en spelers om oppponente vanoor die wêreld op Wittedrift se velde te sien kragte meet," sê Jeremy Marallish, skoolhoof van Wittedrift.
Die eerstespanmanne van Wittedrift en De Villiers Graaff in 'n taai stryd by die lynstaan. Matthew Brummer rank teen sy opponent om die bal te kry terwyl Jacques Steyn, afrigter van Wittedrift se eerstespan, toekyk. Foto: Sarah Hume.
'Ons bring jou die nuutste Plettenbergbaai, Tuinroete nuus'