Gallery
EDEN DISTRIK NUUS - Tydens die Weskaapse Departement van Kultuursake & Sport (DKES) se tjekoorhandigingseremonie op 17 April te Riversdal, het die Eden-sportraad die grootste bedrag tot nog toe ontvang vir sportontwikkeling in die distrik.
Minister Anroux Marais het 'n tjek van R2 095 000 oorhandig aan 36 Eden-sportfederasies vir administrasie, transformasie, ontwikkeling, kapasiteitsontwikkeling en die aanbied van top sportbyeenkomste.
Eden tops in Weskaap
Tydens die seremonie, wat aangebied is in vennootskap met die Hessequa-munisipaliteit, het die Eden-sportraad 'n puik getuigskrif ontvang.
Die distrik word beskou as die bes georganiseerde en beste operasionele distriksportraad in die Weskaap, spog met 'n 98% nakoming van verpligtinge, 100% teenwoordigheid van federasies by die trilaterale aanbiedings en die tjekoorhandigingseremonie, en bedryf die toonaangewende Eden-sportakademie en 'n goed-gestruktureerde en operasionele skoolsportstelsel.
Eerbewys is ook getoon aan Eden-sportraad se uittredende sekretaris Dave van der Walt.
Jeuggeleenthede prioriteit
In haar toespraak het Marais dit duidelik gestel dat DKES verbind is om geleenthede vir die jeug te skep asook die rekonsiliasie en ontwikkeling van die Weskaapse gemeenskap deur die voorsiening van gelyke toegang tot bekostigbare sportfasiliteite, programme en dienste.
In die Weskaap, waarin ses distriksportrade bestaan, word 131 sportfederasies met R5.4-miljoen befonds, R260 000 is aan transformasieprojekte toegeken en R400 000 begroot om administrateurs en sportpersone van geaffilieerde lede by te staan om aan internasionale byeenkomste te kan deelneem.
Hoofdirekteur van sport in die Weskaap Dr Lyndon Bouah het begunstigdes van die toekennings egter gewaarsku dat die fondse ekonomies gebruik moet word en dat gereelde terugrapportering deel van die ooreenkomste is.
In sy bedankings het voorsitter Desmond Speelman die distrik se ondersteuning aan alle sportfederasies aangebied met die uitdagings wat hulle ondervind. Speelman het Marais ook bedank vir die provinsie se vertroue in Eden-sportraad met die befondsing, en het ook die Eden-kantoor van DKES bedank vir die goeie reëlings van die seremonie.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'